|
|
Wie onthou die glorie-dae van Hillbrow, Yeoville en Kalkbaai toe jy en jou metgesel vir ʼn elegante aandete uit kon gaan terwyl julle kyk hoe ʼn jong Amanda Strydom, Elzabe Zietsman of Johannes Kerkorrel hul eerste treë op die kabaretverhoog gee? Dis ʼn konsep wat byna uitgesterf het. Sedertien was “aandete vermaak” aangebied deur baie “teaters” waar die kos baie elementêr en hoogstens gemiddeld was of restaurante met beperkte of geen teater fasiliteite nie.
By DIE BOER restaurant teater laat herlewe ons “aandete-teater” op sy beste. Ja dis reg! - in die hartjie van Durbanville is daar nou n tuiste vir die uitvoerende kunste binne die “ambience” van ʼn top restaurant en ʼn volledig toegeruste teater.
|
|
|
|
|
|
|
 |
-
Om ʼn venue te skep vir die kieskeurige musiek- en teater liefhebber wat ʼn “1-stop” aand met gehalte kos en top vermaak wil hê.
-
Om ʼn koesterende omgewing vir kunstenaars te bied. Kunstenaars is die ruggraat van ons besigheid en dis in ons belang om ʼn platform vir gevestigde kunstenaars te bied terwyl ons voortdurend nuwe talent soek en help ontwikkel. Om ʼn lewensvatbare besigheid te bedryf wat ons in staat sal stel om in die langtermyn ʼn bydrae tot ons kuns en kultuur te lewer.
|
 |
HOEKOM “DIE BOER”?
Ons wil onmiddelik al die beswaardes gerusstel! Die naam het NIKS met politiek te doen nie. Laat ons verduidelik:
Die naam was die resultaat van baie debat en nog meer rooiwyn. Ons (as eienaars) wou eerstens ʼn tuiste vir die kunste skep. Tweedens wou ons dit ʼn definitiewe Afrikaanse identiteit gee. Ons het opgelet dat in die Durbanville omgewing, met sy hoofsaaklik Afrikaanssprekende gemeenskap, daar byna 30 restaurante was, waarvan omtrent geen een ʼn Afrikaanse naam gehad het nie. Ons het besluit dit is “niks lekker” nie.
Voordat die term “die BOER” deur die geskiedenis, en sekere groepe in ons land gekaap is, het dit “the FARMER” beteken. ʼn Boer is iemand wat die landerye bewerk, die elemente moet trotseer en die grond moet koester om in ʼn gemeenskap se mees basiese behoefte - kos, te voorsien. Ons grond en ons land is (lank voor 1652 en sedertien) gekoester deur boere van alle kleure, en alle geure..
As Afrikaansprekendes voel ons dat die taal groot geword het en dat dit nou vry behoort te wees van al die “jukke” wat die geskiedenis daarop geplaas het. Ons eis hiermee die naam “die BOER” terug vir ALLE Afrikaanssprekendes in die land. Ons wil ʼn nie-rassige, “inklusiewe” en vreedsame tuiste vir die kunste skep, waar ons nietemin trots is om Afrikaans te ondersteun. Soos die boer die grond koester, so wil ons ons kliënte, ons kuns en ons kultuur koester.
|
 |
|
Die BOER is aandete-teater in die ware sin van die word. Bespreek ʼn tafel en hy is joune vir die hele aand. Daar is geen pilare of ander obstruksies in die pad nie. Ons deure maak oop vanaf 18:15 vir aandete en vertonings begin om 20:00. Bestel vanaf ʼn a’ la carté spyskaart, kies ʼn goeie wyn vanaf ons uitstekende wynlys, geniet die vertoning, wat gewoonlik tussen 60 tot 90 min duur en kuier daarna so lank as wat jy wil.
Omdat ons ʼn kwaliteit teater ervaring aan ons gaste wil gee, bedien ons nie kos of drank gedurende die vertonings nie. As jy voor die tyd wil eet moet jy asb op die laatste teen 19:00 reeds by ons wees. Ons is byna altyd vol bespreek en kan ongelukkig nie bestellings vir kos neem na 19:10 vir etes VOOR die vertoning nie. Jy is natuurlik welkom om na die tyd te bestel en rustig die vertoning oor aandete te bespreek.
|
 |
MOET EK BESPREEK?
Ja, by die Boer is bespreking noodsaaklik om ʼn tafel te verseker. Kaartjiegelde wissel na gelang van die vertonings en is vooraf betaalbaar d.m.v direkte bankbetaling, kredietkaart, of by die teater self (sien besigheidsure). Vir besprekings bel asb (021) 979 1911.
|
 |
MOET EK EET?
Die Boer is ʼn restaurant en ons verwag van ons gaste om te eet indien ʼn tafel bespreek word. Kaartjiegelde wat vooraf betaalbaar is, gaan uitsluitlik aan die kunstenaar en in baie gevalle moet die koste gesubsidieer word uit die inkomste van die restaurant. Ons enigste inkomste kom vanaf kos en drank verkope. Om ʼn venue soos die Boer lewensvatbaar te maak, is dit noodsaaklik dat ons gaste ons restaurant ondersteun sodat ons kan voortgaan om die top kunstenaars wat tot dusver hier opgetree het, terug te bring.
Indien u NIE wil eet nie, kan u op n waglys geplaas word. Indien ons NIE vol bespreek is met gaste wat wil eet nie, sal ons u terugbel en kan u ʼn tafel bespreek Daar is ook beperkte sitplekke by ons kroeg beskikbaar vir diegene wat NIE wil eet nie.
|
 |
KAN EK ROOK?
Omdat die BOER eerstens ʼn restaurant is, is ons volgens wet ʼn rookvrye venue tensy ons ʼn spesiale area sou afskort met glasmure en lugversorgers. Om dit in die Boer te doen sou die uitstekende akoestiek, waaraan ons so hard gewerk het, vernietig. So - ‘skuus’ aan al die rokers. Op die oomblik is ons rookarea buite, maar ons werk daaraan om ʼn “meer gemaklike” rookarea te skep.  |
 |
|