Alwena van der Vyver
Alwena is een van min Gospelkunstenaars met ’n volwasse- en kinderbediening. Sy tree gereeld op as kunstenaar/spreker tydens gesins- en kinderdienste, damesoggende/-kampe, gemeentekampe en feeste dwarsoor die land. Sy het vier CD’s uitgereik, d.i. Nou WEET ek!, Deure, Dizzie Waarheid en Rooiwielwa.
Met Dizzie Waarheid bring Alwena, Dizzie en die Pêllies die Woord met lekker saamsingliedjies. (“Ek het nog nie hierdie groep se gelyke in Suid-Afrika gesien nie!”: Manuel Escorsio) Alwena, Dizzie en die Pêllies sien uit na hulle optrede in die Barnyard Teater op 11 September 2010.
Hallelujas in my Hangkas, ’n geestelike kabaret met Marié du Toit as regisseur, is die nuutste toevoeging tot Alwena se werk.
My winter is verby – Alwena neem jou met humor en soms met ’n traan, deur die seisoene van die lewe en herinner ons aan die ewige lente wat wag! Bram Potgieter tree op as begeleier
Die Kersproduksie Die Vredesboodskap vind groot byval.
Rooiwielwa, met gedigte en prosa uit die pen van Charles Fryer, is saamgestel, getoonset en word gesing deur Alwena met Bram Potgieter as begeleier. Die produksie het verlede jaar op Stellenbosch se WOORDFEES gedebuteer en het ook ’n draai by die Kalfiefees gemaak. Bindingsteks: Helena Conradie.
Benewens haar solo loopbaan, deel sy gereeld verhoë met bekende kunstenaars soos Manuel Escorsio, ook met Randall Wicomb as begeleier en word gereeld gesien saam met Marié du Toit – ook in die kabaret Koeksister en Kalbas.
Alwena was verlede jaar betrokke as repetereur vir die “Chorus” in die Musiekblyspel, Houtkruis, wat in die Artscape aangebied is. Desember 2009 het sy een van die hoofrolle teenoor Scott Cooper vertolk in die Musiekblyspel, A time for Christmas, wat aangebied is deur Scarpleblu Produksies.

|