Amanda Strydom
Amanda Strydom is een van Suid-Afrika se mees gevierde kunstenaars.
Amanda is nie alleen 'n sanger en kabaret kunstenaar soos die meeste mense haar ken nie, sy skryf ook haar eie lirieke en toneelstukke en is 'n bekroonde aktrise.
Sy is op 23 Julie 1956 in Port Elizabeth gebore en matrikuleer aan die Framesby Hoërskool in 1974. As kind studeer sy drama by Mari Mocke en Marlene Pieterse se "Kinderteater" en vaar uitstekend in die plaaslike Eistedfodds. Na haar skoolopleiding gaan studeer sy drama en gradueer met 'n BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria.
Behalwe vir haar deelname aan skoolkore, kerksang en die eggo in die badkamer van haar ouerhuis, het Amanda geen formele sangopleiding nie en kan sy ook nie 'n noot musiek lees nie.
Ná haar universiteitsopleiding word Amanda aangestel as aktrise in die hoof teatergroep van die Kaapse Provinsiale Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) waar sy hoofrolle vertolk in "Kinkels innie Kabel" en "Die Wonderwerk". Haar vertolking van die hoofrol in die Franz Marx film, "Pasgetroud" in 1979 beland haar in die vrysku t vermaaklikheidswêreld waar sy werk in teater, film, televisie, kabaret en ook as TV aanbieder, radio platejoggie en skrywer.
In 1986 veroorsaak Amanda 'n "skandaal" toe sy met gebalde vuis die swart magsteken gee tydens 'n kabaret opvoering by die Oude Libertas in Stellebosch. Sedertdien is sy dikwels in die pers aangehaal as "Amandla" Strydom.
Kort na hierdie insident is sy amper emosioneel kreupel gelaat met bipolêre depressie waaroor sy later 'n toneelstuk, "In Full Flight", skryf. Dié toneelstuk is deur kritici begroet as 'n "openbaring".
Ná 'n afwesigheid van drie jaar van die vermaaklikheidsberoep tree Amanda in 1992 terug na die verhoog. Hierdie keer met haar eie produksies wat sy met groot sukses self skryf en opvoer, en wat wyd deur resensente aangeprys word. Haar versamelalbum, "Ek loop die pad, 20 jaar", word in 2000 vrygestel ter viering van Amanda se sangloopbaan wat toe reeds al oor 'n 20 jaar tydperk strek.

|