AMANDA STRYDOM: ‘N VUUR GEVANG IN GLAS
“Jy praat en sing jou mond verby
Jou vak is immers cabaret
Maar by jou lied is ingebou
Die troostoon van ‘n wyse vrou”
(Hennie Aucamp oor Amanda Strydom)
Amanda Strydom bly die maatstaf waaraan alle kabaretkunstenaars in hierdie land gemeet word en sy lewer met hierdie vertoning ‘n kragtoer met die werke van haar mentor, Hennie Aucamp, die vader van die Afrikaanse kabaret.
Aucamp vier vanjaar sy 76 ste verjaarsdag en hierdie vertoning is Strydom se eerbetoon aan haar meester.
Aucamp se liedtekste is getoonset deur Strydom en Lize Beekman en die gelyknamige album is in 1998 benoem vir ‘n Sama toekenning vir beste klankbaan in ‘n musiekblyspel. Strydom vertolk ook verskeie monoloë uit Aucamp se pen – die resultaat: egte kabaret.
Strydom het “ ‘n Vuur gevang in Glas” in Maart 2009 by die Woordfees in Stellenbosch opgevoer en resensent Deborah Steinmair skryf as volg daaroor in die Burger :
“My absolute gunsteling was Amanda Strydom se ‘Vuur gevang in Glas’. Sy gee vlerke aan die woorde van haar briljante mentor, Hennie Aucamp. Dis die ware Jakob: kabaret wat ou Berlyn sou laat regop sit en luister. Sy het ‘n wrang slag met ironie, sy is vol “troebel pret” en haar teerheid is ‘n vlinder,’n “papillon d’amour “. Ná die vertoning stem ek saam met Meester Aucamp se uitspraak in die foyer: Beter sal jy nie kry in die Lae Lande of enige plek ter wêreld nie”
Strydom word begelei deur die briljante Janine Neethling. Neethling is waarskynlik die mees gesogte musikale regisseur en pianis is ons land. Sy is die leier van die reuse Skouspel orkes en doen ook al die verwerkerings vir hierdie grootse musiek gebeurtenis elke jaar.
Hierdie is ‘n aand van die hoogste kwaliteit Afrikaanse kabaret... daar is min hiervan in ons land oor... moenie dit mis nie... Jurg Human.. die Boer
Amanda is nie alleen 'n sanger en kabaret kunstenaar soos die meeste mense haar ken nie, sy skryf ook haar eie lirieke en toneelstukke en is 'n bekroonde aktrise.
Sy is op 23 Julie 1956 in Port Elizabeth gebore en matrikuleer aan die Framesby Hoërskool in 1974. As kind studeer sy drama by Mari Mocke en Marlene Pieterse se "Kinderteater" en vaar uitstekend in die plaaslike Eistedfodds. Na haar skoolopleiding gaan studeer sy drama en gradueer met 'n BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria.
Behalwe vir haar deelname aan skoolkore, kerksang en die eggo in die badkamer van haar ouerhuis, het Amanda geen formele sangopleiding nie en kan sy ook nie 'n noot musiek lees nie.
Ná haar universiteitsopleiding word Amanda aangestel as aktrise in die hoof teatergroep van die Kaapse Provinsiale Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) waar sy hoofrolle vertolk in "Kinkels innie Kabel" en "Die Wonderwerk". Haar vertolking van die hoofrol in die Franz Marx film, "Pasgetroud" in 1979 beland haar in die vryskut vermaaklikheidswêreld waar sy werk in teater, film, televisie, kabaret en ook as TV aanbieder, radio platejoggie en skrywer.
In 1986 veroorsaak Amanda 'n "skandaal" toe sy met gebalde vuis die swart magsteken gee tydens 'n kabaret opvoering by die Oude Libertas in Stellebosch. Sedertdien is sy dikwels in die pers aangehaal as "Amandla" Strydom.
Kort na hierdie insident is sy amper emosioneel kreupel gelaat met bipolêre depressie waaroor sy later 'n toneelstuk, "In Full Flight", skryf. Dié toneelstuk is deur kritici begroet as 'n "openbaring".
Ná 'n afwesigheid van drie jaar van die vermaaklikheidsberoep tree Amanda in 1992 terug na die verhoog. Hierdie keer met haar eie produksies wat sy met groot sukses self skryf en opvoer, en wat wyd deur resensente aangeprys word. Haar versamelalbum, "Ek loop die pad, 20 jaar", word in 2000 vrygestel ter viering van Amanda se sangloopbaan wat toe reeds al oor 'n 20 jaar tydperk strek.

|