| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

André Schwartz

NADAT die musiekblyspel The Phantom of the Opera die land getref het, kyk mense skielik met ander oë na André Schwartz. Hy is skielik véél meer as net die sanger wat liedjies soos Lief vir alles hier en Ek wil jou nooit weer sien nie , bekend gemaak het.

Boonop is André onlangs aangewys as die wenner van die Naledi- én Fleur du Cap-toekennings vir sy titelrol in dié musiekblyspel.

Daar het self ‘n paar stories begin rondloop dat André as een van die beste Phantoms in die wêreld beskou word deur die vervaardigers van die gewilde musiekblyspel, en dis baie maklik om te glo. André het al deur en deur sy staal gewys as een van ons land se mees diverse en briljante sterre. Hy het sy TV-debuut gemaak toe hy maar skaars 14 was en tot op datum het hy al meer as 10 albums vrygestel. Watter ander Suid-Afrikaanse kunstenaar kan ook sê dat hulle dan boonop in musiekblyspele soos Jesus Christ Superstar, Pirates of Penzance en Joseph and his Amazing Technicolour Dreamcoat betrokke was. Sy CD ‘The Musicals” word beskryf as een van sy beste nog ooit en bevat tydlose snitte soos Circle of Life , Music of the night , On the street where you , Love changes everything en Send in the clowns . Voorwaar een vir die versameling.

Wanneer André nie besig is om die volk te vermaak nie, is hy betrokke by liefdadigheidsprojekte soos organisasies wat MIV bekamp. Hy werk ook as bemarker by sy eie bemarkingsmaatskappy André Schwartz Marketing.

Ná die welslae van Phantom of the Opera en The Musicals bied die bekroonde sanger André Schwartz nóg ‘n album wat gestempel is met sy vokale sjarme. Dié gehalte-album versamel innige liefdesliedjies wat die tydtoets deurstaan het, en word skitterend vertolk deur een van die land se beste ligte tenore.

André, wat eweneens reuse-welslae met sneltempo-musiek verwerf het, bied hier ‘n toonkas van tydlose, wydtreffende musiek. Met gebalanseerde, kommersiële sprinkel behou hy sy vokale integriteit: stylvol en meevoerend – met ‘n kragtoer op die snit Remember me. Tussen die romantiese juwele is gunstelinge soos Because it's love, Come what may, It must have been love, Sacrifice en Yesterday . Hy verleen eiesoortigheid aan sy gevoelvolle vertolkings van Once in every life, Let the river run, Spanish eyes, Remember me en daardie ritmiese klubvreugde Can't take my eyes off you.

In Afrikaans imponeer die klassieke gevoel van die snit Dis jy , die briljante interpretasie van Liefling (in smeul duet met Sarah Theron), die Afrikaanse huldeblyk Diana , ter ere aan dié prinses se huldigingsjaar en, veral, die goedvoel-nuutskepping Jy's altyd daar – oorspronklike werk deur Marc Brendon, Don Kelly én André.

Vier regisseurs – Harold Schenk, Christie Schutte, Robin Kielly en Didi Kriel – het die luisterryke verwerkings en produksie behartig. Die orkestrasie – met strykers, klawers, kitare en tromme – komplementeer André se vokale fluweel.

André Schwartz se album Love Songs is ‘n tintelende tentoonstelling van emosie en nostalgie.

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development