Anna Davel
‘n Splinternuwe album met Jazz Swing musiek voorheen opgeneem deur kunstenaars soos Frank Sinatra, Nat King Cole ea, en nou afgestof en opgejazz deur Anna in samewerking met die fenominale Matthys Maree op klavier. Na die sukses van Anna se vorige album ‘Linger’, is besluit om ‘n nuwe soortgelyke album vry te stel met musiek van die 20 – 60’s. Anna sing meestal musiek van hierdie album asook ‘n paar nuwe oorspronklike liedjies wat sy onlangs geskryf het – Dus… ‘n splinternuwe show met ‘n verskeidenheid so reg in Anna se styl; jazzy, smokey latino ritmes, Swingende bossa nova’s en dan natuurlik ‘n paar heuning-ballades vir die somber siele!
Die CD Vrystelling – Linger Longer
Dit was nie moeilik om verlief te raak op ‘n van era van pêrels, die big band swing en die Charlston nie. Sy het weereens haar gunsteling 15 liedjies gekies van 1920 af tot nou en saam met Matthys Maree, die vervaardiger van haar vorige 5 albums ‘Linger Longer’ opgeneem. Die album word in die Kaap vir die eerste keer bekendgestel op 2 Mei in die Kaap by een van haar gunsteling venues - die Boer Restaurant Teater.
Die album bestaan uit ‘n seleksie van liedjies wat oor byna ‘n eeu hul merk gemaak; Liedjies op die album waarna mense kan uitsien is Can’t take that away from me, Bewitched, Bothered and bewildered, Papa loves Mambo, Live till I die, To make you feel my love, Baby Grand, Beyond the Sea, Sway, Let’s never stop falling in love, Somewhere over the rainbow, Let there be love, The lady is a tramp, Those were the days, Boulevard of Broken Dreams en SmileDie nostalgiese musiek het dadelik gemaklik gevoel in haar rustige jazz en swing aanslag en saam met top SA jazz musikante het hulle ‘n nuwe album opgeneem van musiek wat tydloos sal bly. ‘n Keur van hierdie liedjies word deur Anna en Matthys uitgevoer.
Die title is nie verniet ‘Linger Longer’, en vir dekades al draai liedjies van Frank Sinatra, Bob Dylan, Perry Como, Tony Bennet, Dean Martin, Etta James, Louis Armstrong, en ja selfs Charlie Chaplin in die geheue van duisende mense! Die rede daarvaar sê Anna is: “omdat die liedjies so ongelooflik goed geskryf is. Jy kan dit totaal stroop, en net met klavier doen, en die lirieke, akkoorde en samestelling van hierdie liedjies is so weldeurdag en briljant, dat dit alleen kan staan. Moderne popmusiek (met heelwat uitsonderings, ek luister na heelwat goeie pop) het soveel nodig in die agtergrond om dit te laat gebeur, dat die woorde en betekenis dikwels onbelangrik word.

Anna Davel
A nna Davel het haar Diploma in Ligte Musiek / Jazz in 1998 aan die Technikon Pretoria verwerf. Sy onthou:
"Ek was waaragtig nie 'n model-student nie... inteendeel! Maar ek het great muso's daar ontmoet. En ons werk almal nog gereeld saam!"
In 1997 word Anna gekroon as die algehele wenner van die ATKV se jaarlikse Crescendo-kompetisie.
Sy wen dit met Viooltjies - een van haar eie komposisies, met huishoudelike geweld as tema. Dit het 'n waardige afskop-punt vir Anna se loopbaan as solo-kunstenaar en liedjieskrywer, gemerk!
Later daardie jaar sluit sy aan by die baie suksesvolle vroue a capella groep, Cutt Glas, waarvan sy lid was tot aan die einde van 2003.
Saam met die groep, tree sy dwarsoor Suid-Afrika op en hulle reik 3 CD's uit. Verdere hoogtepunte was toere na Engeland, Portugal, Finland, China en België. Intussen het Anna tyd gehad om haar voete te vind as solo-kunstenaar.
Haar eerste album, Te Diep, word vrygestel in 2000. Sy verdien daarmee 'n SAMA-nominasie en twee nominasies vir die Geraas Musiektoekennings.
Aan die einde van daardie jaar word daar deur die dagblad, Beeld, na hierdie CD verwys as een van die top Afrikaanse CD-uitreikings van 2000.
Die tweede album volg in 2002. Gypsy maak weereens 'n groot indruk en hierdie keer word Anna genomineer vir 8 toekennings: een SAMA-nominasie en sewe GMT-nominasies!
Anna het sedert 1992 al vir verskeie plaaslike kunstenaars geskryf. Haar komposisies is deur die jare opgeneem deur name soos Elzabé Zietsman, Christa Steyn, Jannie du Toit, Johnny & Vivian, Herman van den Berg, Jhade and Tasha Taljaard.
Sy het ook haar hand gewaag aan verskeie projekte vir film en televisie. Haar tema-musiek is onlangs gebruik vir die gewilde SABC2-reeks, Face 2 Face, en was gesing deur die fenominale Jennifer Jones.
Anna het op die verhoog ook saam met van ons land se bestes gewerk. Sy sonder haar deelname aan 'n projek getiteld Al daai Jazz, uit. Hierdie produksie het in 2002 by die KKNK gepremiére met name soos Gloria Bosman, Lize Beekman, Karen Zoid, Amanda Strydom and Mynie Grové.
D ie produksie het na verskeie sentra getoer en 'n CD is ook vrygestel. In 2002 ontvang Anna 'n FNB Vita-toekenning vir Beste Nuweling. Dit was vir haar bydrae in Jannie du Toit en Christa Steyn se produksie, Skadu's teen die Muur
Anna het tot op hede, agt verhoogproduksies die lig laat sien: Moegewroeg, Te Diep, Slaapdans, Pers, Die Kleur van Klank, Gypsy, Ashes (vir haar geskryf deur Nataniël en met Sandra Prinsloo as regisseur), en nou, Godinne op die Grondpad.
Godinne op die Grondpad bevat grootliks die musiek vanaf haar splinternuwe CD met dieselfde titel - wat vroeër vanjaar by die KKNK in Oudtshoorn vrygestel is. Vir die eerste keer, kom al die materiaal op die album uit Anna se eie pen. Daar is selfs 'n song wat al dertien jaar gelede geskryf is!
Sy werk weer saam met van ons land se beste musikante en saam beplan hulle om elke uithoek van die land te verken met hierdie uitsonderlike versameling musiek!

|