| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

Anna Davel – Moment

Haar eerste album is vrygestel in 2000, en meer as ‘n dekade later sing sy nog steeds die land aan die brand in ‘Photograph’. Anna doen ‘n program van meestal splinternuwe musiek en ook ‘n paar meer bekende songs uit haar repertoire die afgelope 10 jaar. Saam met haar op die verhoog is die talentvolle Kaapse pianis, Ramon Alexander.

Daar word tans fluks geskryf aan ‘n nuwe album en die gehoor kan uitsien na kraakvars liedjies wat vir die eerste keer gehoor kan word in die Kaap. Natuurlik sal daar ook ‘n paar ou gunstelinge deel maak van die program soos ‘Die gypsy in jou oë’ en ‘As jou hart reg klop’. Die program sluit ook in : een of twee nommers van haar cd "Linger Longer”, wat bestaan uit Jazz Swing musiek soos voorheen opgeneem deur Frank Sinatra, Nat King Cole ea, en afgestof en ‘opgejazz’ is.

Dus… ‘n splinternuwe show met ‘n verskeidenheid so reg in Anna se styl; jazzy, smokey latino ritmes, Swingende bossa nova’s en dan natuurlik ‘n paar oorspronklike heuning-ballades vir die somber siele!

In die afgelope 10 jaar was daar 6 album-vrygestellings, en is sy 2010 vir ‘n vierde keer genomineer vir ‘n SAMA toekenning; die keer vir Beste Jazz album van die Jaar. Verlede jaar was Anna ook te sien in die trefferproduksie Afri-Spaans (saam met Steve Hofmeyr) en ‘Skouspel’, die grootste jaarlike musiekgebeurtenis in SA.

Anna Davel

Anna Davel het haar Diploma in Ligte Musiek / Jazz in 1998 aan die Technikon Pretoria verwerf. Sy onthou:

"Ek was waaragtig nie 'n model-student nie... inteendeel! Maar ek het great muso's daar ontmoet. En ons werk almal nog gereeld saam!"

In 1997 word Anna gekroon as die algehele wenner van die ATKV se jaarlikse Crescendo-kompetisie.

Sy wen dit met Viooltjies - een van haar eie komposisies, met huishoudelike geweld as tema. Dit het 'n waardige afskop-punt vir Anna se loopbaan as solo-kunstenaar en liedjieskrywer, gemerk!

Later daardie jaar sluit sy aan by die baie suksesvolle vroue a capella groep, Cutt Glas, waarvan sy lid was tot aan die einde van 2003.

Saam met die groep, tree sy dwarsoor Suid-Afrika op en hulle reik 3 CD's uit. Verdere hoogtepunte was toere na Engeland, Portugal, Finland, China en België. Intussen het Anna tyd gehad om haar voete te vind as solo-kunstenaar.

Haar eerste album, Te Diep, word vrygestel in 2000. Sy verdien daarmee 'n SAMA-nominasie en twee nominasies vir die Geraas Musiektoekennings.

Aan die einde van daardie jaar word daar deur die dagblad, Beeld, na hierdie CD verwys as een van die top Afrikaanse CD-uitreikings van 2000.

Die tweede album volg in 2002. Gypsy maak weereens 'n groot indruk en hierdie keer word Anna genomineer vir 8 toekennings: een SAMA-nominasie en sewe GMT-nominasies!

Anna het sedert 1992 al vir verskeie plaaslike kunstenaars geskryf. Haar komposisies is deur die jare opgeneem deur name soos Elzabé Zietsman, Christa Steyn, Jannie du Toit, Johnny & Vivian, Herman van den Berg, Jhade and Tasha Taljaard.

Sy het ook haar hand gewaag aan verskeie projekte vir film en televisie. Haar tema-musiek is onlangs gebruik vir die gewilde SABC2-reeks, Face 2 Face, en was gesing deur die fenominale Jennifer Jones.

Anna het op die verhoog ook saam met van ons land se bestes gewerk. Sy sonder haar deelname aan 'n projek getiteld Al daai Jazz, uit. Hierdie produksie het in 2002 by die KKNK gepremiére met name soos Gloria Bosman, Lize Beekman, Karen Zoid, Amanda Strydom and Mynie Grové.

Die produksie het na verskeie sentra getoer en 'n CD is ook vrygestel. In 2002 ontvang Anna 'n FNB Vita-toekenning vir Beste Nuweling. Dit was vir haar bydrae in Jannie du Toit en Christa Steyn se produksie, Skadu's teen die Muur

Anna het tot op hede, agt verhoogproduksies die lig laat sien: Moegewroeg, Te Diep, Slaapdans, Pers, Die Kleur van Klank, Gypsy, Ashes (vir haar geskryf deur Nataniël en met Sandra Prinsloo as regisseur), en nou, Godinne op die Grondpad.

Godinne op die Grondpad bevat grootliks die musiek vanaf haar splinternuwe CD met dieselfde titel - wat vroeër vanjaar by die KKNK in Oudtshoorn vrygestel is. Vir die eerste keer, kom al die materiaal op die album uit Anna se eie pen. Daar is selfs 'n song wat al dertien jaar gelede geskryf is!

Sy werk weer saam met van ons land se beste musikante en saam beplan hulle om elke uithoek van die land te verken met hierdie uitsonderlike versameling musiek!

DNA Online - Website Design and Development