Annake De Villiers
ANNAKE DE VILLIERS is n top musikant in eie reg en haar debuut album
ANNAKE DE VILLIERS se vioolpad het 'n ompad of wat gevat, maar meestal vorentoe gekoers tot by haar eerste solo-CD, U-turn, wat volgende week op die rakke verskyn. Annake-die-hip-violis was so 10 jaar gelede Annake-die-ernstigemusiekstudent in Bloemfontein.
Dis hier in die Vrystaat by die UV-dosente Abrie de Wet, Derek Ochse en veral John Wille dat haar musiektande op vioolsnare geslyp is. Teen 1996 toe sy 'n B.A.-musiekgraad aan Kovsies gekry het, was sy konsertmeester van die Vrystaatse Jeugorkes, het sy gereeld in die Sukovs-Simfonieorkes gespeel, verskeie beurse en pryse gewen en het sy gedink sy sal die res van haar lewe lid van 'n orkes wees.
Haar professionele loopbaan het ook so begin, in die destydse Truk orkes. Ná twee jaar daarvan het sy gevoel dit is tyd om die wêreld te sien en het sy haar ander hoofvak, Engels, as paspoort gebruik.
Met 'n Tefl-kursus vir onderrig in Engels as vreemde taal onder haar vioolblad het sy Engeland toe vertrek en toe die winter aanbreek, Brasilië toe verkas. Hier het haar musiekloopbaan sy U-draai gemaak. "Ek het op 'n pêl se troue viool in die kerk gespeel en op die onthaal saam met 'n samba-groep op my viool gejôl. "Toe maak die samba-spelers my sommer lid van die groep en só het ek die eerste keer die smaak van ligte musiek op viool gekry."
In die twee jaar wat Annake oorsee was, het orkeste in Suid-Afrika uitmekaar geval. Al wat in Gauteng oorgebly het, was Weiss Doubell se Pro Musica waarby sy ingeskakel het. Sy het ook klas gegee in 'n taallaboratorium, musiekles gegee en namate die musiekbedryf weer aan die gang gekom het, vir orkeste en ander optredes ( gigs) gevryskut.
Teen die tyd dat sy in rock-produksies soos Rock me Amadeus en Roll over Beethoven beland het, was die violis-met-die- spiky -platinumhare gesog genoeg dat sy koebaai kon sê aan Engelse klasse en musieklesse.
Dié twee produksies het haar geleer om "op die verhoog rond te hop" én viool te speel, wat sy ook drie jaar gelede in die grensverskuiwende Sonder grense op die Volksblad-kunstefees vertoon het. Maar as jy weer kyk, sien jy die "Suid-Afrikaanse Vanessa Mae" se blonde kop in 'n simfonieorkes.
"My oorspronklike liefde is klassieke musiek en die basiese dissipline wat daardie genre vereis, vind ek noodsaaklik om ligte musiek goed te speel. Natuurlik is daar meer geld in ligte musiek, maar ek wil nie baie geld maak maar soos 'n paloeka speel nie."
Annake is "ongelooflik besig" en ook maar goed, want sy sê as sy 'n week lank nie in 'n konsert gespeel het nie, ly sy aan onttrekkingsimptome.
U-turn bevat 13 snitte van haar persoonlike gunstelinge, onder meer tango's, verwerkings van Mannetjies Roux en Harlekyn , Il Postino se pragtige temalied en O sole mio tango gesing deur die tenoor Jannie Moolman, Annake se man. Mariana Malan skryf in Die Burger die verwerkings behels genadiglik nie doef-doef-klanke nie. En Annake sê sy speel op haar akoestiese viool met sy pragtige klank -- klank is vir haar die handtekening van 'n violis. "Dis buitendien baie moeilik om 'n elektriese viool werklik na iets te laat klink."
'n Dag of wat ná Annake se CD verskyn Jannie se nuutste, Hoëveld-kleure . Man en vrou het 'n ruiltransaksie vir die opnames aangegaan -- Jannie sing op hare en sy speel op sy CD.

|