Anton Goosen
Anton Goosen het 'n langpad gestap vandat hy as student per trein gereis het van heidelberg waar hy studeer het, na oos-londen om 'n 15-minute set te doen by 'n plaaslike verskeidenheidskonsert. Die jong anton goosen het hoofsaaklik engelse covers gespeel en dit is nie bekend of enigeen in die gehoor besef het watter impak anton op die suid-afrikaanse musiekbedryf in die algemeen en meer spesifiek die afrikaanse musiekbedryf gaan hê nie.
Aar was sekerlik skeptici. Reeds in std. 9 het 'n skoolsielkundige vir hom gesê dat daar geen toekoms vir hom in musiek is nie. Dit was na hy op skool begin musiek speel het, sterk beïnvloed deur liedjies soos johnny b. Goode van chuck berry, i can’t get no (satisfaction) van die rolling stones en she loves you van die beatles.
Na skool met geen onmiddellike musikale loopbaan in die vooruitsig nie het hy homself as onderwyser bekwaam en ook dan onderwys by st. Stithians gegee terwyl hy saans in kroeë speel. Tydens sy termyn by st. Stithians skryf hy ‘n musiekblyspel jantjie wat deur die leerlinge opgevoer word.
Anton verlaat die onderwys in 1976 en begin as deeltydse resensent by die nuutgestigde beeld werk. Hy gee in die tyd ook kitaarklasse en pottebakkeryklasse. Sy eerste onderhoud as beeld se musiekresensent was met die relatief onbekende sonja heroldt, wie se ek verlang na jou toe pas begin het om gewildheid te verwerf. Tydens die onderhoud noem anton aan sonja dat hy ook liedjies skryf en na sy hom by sy huis besoek het, en deur sy liedjieversameling geblaai het, kies sy jantjie om te sing en dit word haar tweede groot treffer.
Dit was die begin van 'n suksesvolle werksverhouding wat vir byna vier jaar geduu r het. Anton het in die tyd byna eiehandig al die musiek vir sonja se albums geskryf. Waterblommetjies, harlekyn, hanoverstraat, trein na matjiesfontein, ta’ mossie se sakkie-sakkie boeredans en oberammergau is net van die treffers waarmee sonja heroldt die treffersparades en toekenningsaande verower het.
Boy van die suburbs verkoop 80 000 eenhede - gewis nie sleg vir iemand wat geen toekoms in musiek het nie. Op die album breek anton nog nuwe grond vir afrikaans. Blommetjie-gedenk-aan-my word algemeen beskou as die eerste rocksong in afrikaans en die rigting wat anton hierna ingeslaan het besorg later aan hom die eretitel "vader van afrikaanse rock"
Maar anton het nie net die musiek van rock na afrikaans gebring nie. Die protes teen die status quo wat altyd onderliggend aan rock is, was ook deel van anton goosen se bydrae. Antjie somers en hanoverstraat is van die eerste liedjies in afrikaans wat teen gedwonge verskuiwings geprotesteer het. Mpanzaville opgeneem deur laurika rauch dra sterk verwysings na die soweto-onluste. Die atkv verbied anton om by hulle verhoë op te tree na hy grappies tydens ‘n crescendo-optrede in die stadskouburg oor die nasionale vlag gemaak het. Die verbod word later onder druk opgehef. Hy skok ook die gehoor by ‘n kulturele konsert by unisa toe hy met ‘n rockband opdaag vir sy optrede. Sowat 300 van die 1200 mense in die gehoor loop uit tydens die drom-solo
Tussen 1990 en 1992 werk anton goosen aan danzer. Hy toer ook saam met rockbands soos jack hammer en die backwater blues band. Die titelsnit van die danzer album "dancer" waar anton en lucky dube saamsing haal gelyktydig die nommer een posisie op die 5 fm treffersparade asook radio metro. Nie net was die album 'n kommersiële sukses nie, kritici was ook gaande daaroor. Insig noem die album die beste ooit in suid-afrikaanse musiek.
Gedurende die res van die negentigs reik anton nog 'n nuwe album, bushrock uit. Riviersonderend en putonnerwater - anton se twee greatest hits albums word ook in die tyd uitgereik. In die laat negentigs neem anton tyd om homself te herontdek. Hy bou sy huis klaar en reis deur afrika.
In 1999 begin hy weer met lewendige optredes. Sy gehoor bestaan nou ook uit lede van 'n nuwe geslag wat nog kinders was toe anton op die toneel verskyn het. Heelwat van hulle was nog nie eers gebore toe anton boy van die suburbs uitgereik het nie. Anton se musiek word nou ook 'n brug tussen die generasies
Ouderdom maak anton nie minder beginselvas nie. In 1999 weier hy om 'n prys van die atkv te ontvang omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik uit vertaalde engelse liedjies bestaan. Anton voer die stryd teen vertalings en die mense wat op verhoë verskyn met backtracks. Gedurende 2002 word die stryd tot 'n punt gedryf met die backtracks brigade onder leiding van steve hofmeyr wat anton goosen takel op hoofsaaklik litnet, maar later ook in die koerante. Die bloedneus wat steve hofmeyr op litnet kry laat hom 'n vendetta begin teen anton goosen wat hy eindig deur anton 'n selfmoord in die hennopsrivier toe te wens. Anton ignoreer hom, maar verskyn darem by kknk 2003 in 'n t-hemp wat met hofmeyr die draak steek.
Vis in die bos wen in 2002 vir anton goosen 'n sama vir beste album. Die album word deur kritici beskryf as die eerste suksesvolle world music album in afrikaans. Anton breek weereens nuwe grond vir afrikaans. Sy bydrae tot afrikaans word deur die letterkundige gerrit komrij erken toe sy lirieke in 'n poësieversamelbundel ingesluit word. Anton is ook die producer van die om te breyten album wat in 2001 'n sama wen vir beste afrikaanse album. En in 2002 ontvang anton goosen 'n geraas toekenning vir sy bydrae tot afrikaanse musiek.
Die pad is lank maar hy is nog nie klaar geloop nie. Die pad loop ook nie net deur afrika nie, maar daar is ook reeds vier suksesvolle londen shows agter die blad. Sy pad loop ook nie alleen nie, maar loop saam met baie ander en diverse kunstenaars. Anton is veral bekend daarvoor dat hy verskeie jong kunstenaars help om hul eie paaie te bou. Daarvan getuig die reeks anton en vrinne shows wat hy op kunstefeeste aanbied...
Anton het steeds idees vir nuwe albums en sy aptyt vir nuwe musikale eksperimente is nog nie gestil nie. - Johan Pienaar (Steppenwolf)

|