Bobby van Jaarsveld
Ek is Bobby van Jaarsveld. Ek is 20 (amper 21 – word 6 Maart 2008 21 jaar oud!) en ek bly in Centurion, Pretoria. Ek is die middelste van 3 kinders. My sussie Karlien is die oudste. Sy is nou 22 en is die stigter en lead singer van die band Revolusie. My ander sussie is 10 jaar oud en haar naam is Cara. Sy is op die oomblik in dieselfde laerskool waar ek ook was, Laerskool Olienpark in Brits. Ek het matriek geskryf in H-skool Brits. My ouers is geskei toe ek nog baie jonk was en ek en my sussies het by my ma grootgeword, maar was omtrent elke naweek van ons lewe by my pa. Ons was baie bevoorreg. Ons ma en pa het beste vriende gebly na die egskeiding en daarom het dit baie dinge vir ons baie maklik gemaak. My pa, Bob, bly in Witbank en my ma, Ronel, in Hartbeespoort.
Ek het begin sing toe ek so 14 jaar oud was. My ma het my en my sussie aan talent kompetisies laat deelneem en ek dink tog dit het alles daar begin. My ma het die saadjie geplant en ek glo dis hoekom ek en my sussie vandag altwee sing. Die kompetisies het ons baie geleer van die vermaaklikheidsbedryf en ook dat ons moet kan wen en verloor. Aan die einde van my Graad 11 jaar het ek saam met Dozi getoer (hy en my ma ken mekaar al van Graad 5 – hulle was saam op skool). Hy het my op Aardklop vir die eerste keer hoor sing en toe vir my ma gevra dat ek saam met hom moet toer in Desember. Na die toer het Dozi vir Blackie Swart van my vertel en Blackie het toe my eerste recording kontrak vir my aangebied. Ek het baie geleer by hierdie man. Blackie Swart is `n baie goeie leermeester. Twee jaar later het Theuns Jordaan my hoor sing en my `n maand of later genader en `n kontrak aangebied nadat hy sy eie plate maatskappy gestig het. Dit was in November 2006. Ek het van toe af baie nou saam met Theuns begin werk en ook begin om shows saam met hom te doen. Dit wat ek by Theuns geleer het kan geld nie koop. Ek het ook saam met Robbie Wessels getoer. Hierdie kunstenaars het my “grootgemaak”. Ek het soveel by hulle geleer en sal altyd dankbaar bly teenoor hulle.
2006 was `n goeie jaar vir my. Ek het 3 nominasies in daardie gekry as Beste Nuweling vir 2006. Dit was by KKNK – Kanna nominasie, asook deur die Vonk tydskryf en ook deur Huisgenoot. Ek wen toe die Huisgenoot Tempo toekenning by Skouspel 2006 vir Beste Nuweling. Dit was `n groot hoogtepunt in my lewe. Die volgende hoogtepunt was toe ek gekies is vir Skouspel 2007. Daar is nie woorde om hierdie ervaring te kan beskryf nie.
Ek is op die oomblik (Jan 2008) besig om te werk aan my nuwe cd en hoop dat hy teen Maart of April 2008 op die winkelrakke sal wees.
Dankie dat jy hier gelees het en ek hoop om jou by een van my volgende shows te sien!
Blessings!
Bobby

|