Chris Chameleon
Biografie
SAMA nominasies 2009 : SAMAS vind op 2 en 3 Mei in Sun City plaas.)
Beste Manlike Kunstenaar – Klassieke Chameleon
Album van die Jaar – Klassieke Chameleon
Beste Afrikaanse DVD – Klassieke Chameleon
Beste Afrikaanse Kontemporêre Album – Klassieke Chameleon
MTN Plaat van die Jaar - Sterredank
Chris Chameleon word beskou as n fenomeen op die Suid-Afrikaanse musiekfront.
Met sy eiesoortige, uitsonderlike styl en vermoë om gehore te bekoor met sy stem wat oor 4 oktawe strek, word Chris gereken as een van die belangrikste en mees gewilde kunstenaars van ons tyd.
Chris is die afgelope drie jaar bekroon met die indrukwekkende totaal van 16 toekennings, onder andere `n SAMA Toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album vir “7 deHemel” en `n Erepenning van die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot Ligte Afrikaanse Musiek.
Chris Chameleon het sy loopbaan as `n akteur begin en het reeds op `n jong ouderdom `n DALRO toekenning vir sy toneelspel ontvang. Hy het tussen 1990 en 2000 in meer as 30 televisiereekse (oa Egoli, Konings, Sonkring, Glaskasteel), films en videos opgetree. Daarna het die musiekgogga gebyt en word hy die plofbare voorsanger en baskitaarspeler vir die bekende ‘monki punk’ trio Boo!
In die 7 jaar van Boo! se bestaan het hulle wêreldwye aanhangers gewerf en meer as 800 vertonings in 17 lande gelewer. Boo! was ook na verskeie musiekfeeste in beide Europa en Amerika genooi, waar hulle die verhoog gedeel het met internasionale groepe soos White Stripes , Limp Bizkit, Slipknot, Franz Ferdinand, Cypress Hill, Coldplay ens. Boo! is in 2002 bekroon met `n SAMA Toekenning vir “Beste Pop album”.
Nadat Boo! in 2004 uitmekaar is, het Chris Chameleon teruggekeer na Suid-Afrika om sy herkoms te vier met die bekendstelling van sy eerste Afrikaanse werk: ‘Ek herhaal jou’, `n album met Chris se eie toonsettings van verskeie Ingrid Jonker gedigte.
Chameleon het met hierdie werk daarin geslaag om die digkuns van Ingrid Jonker op 'n modern toeganklike en sensitiewe wyse weer te gee. Chameleon se bydrae tot die herlewing van digkuns by n breër publiek is ook `n noemenswaardige gevolg van ‘Ek herhaal jou.’ Sy insluiting in die span aanstaande skrywers en digters vanuit Nederland en Curacao by geleentheid van die Derde Simposium vir swart Afrikaanse skrywers by UWK in 2006, onder leiding van Antjie Krog, is beduidend van die erkenning wat daar onder sommige van die voorste akademici bestaan vir die rol wat sy akkurate toonsettings in die bevordering van Afrikaanse digkuns speel.
‘Ek herhaal jou’ het in Augustus 2006 Goue Status bereik en in Desember 2007 Platinum Status. Die album was ook benoem vir `n SAMA toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album.
Chris se eerste solo DVD “Volkleur” is ook in 2005 uitgereik. “Volkleur” is opgeneem tydens `n vertoning by Die Boer in Dunrbanville en het goue status in verkope bereik.
In 2006 het Chris Chameleon die eerste Suid Afrikaanse kunstenaar geword wat op dieselfde dag twee totaal verskillende albums uitgereik het: ‘7de Hemel’, wat in Augustus 2006 platinum status bereik het, is Chris se tweede Afrikaanse album. Dit bestaan uit liedjies wat hy geskryf en gekomponeer het vir die karakter Liam, wat hy vanaf Mei tot Julie 2007 op 7 de Laan, SABC 2 vertolk het. ‘Shine’ is Chris se eerste Engelse solo album en die liedjies daarop is meestal opgedra aan spesifieke vroue in Chris se lewe.
Dit is `n besondere prestasie dat beide hierdie albums in 2007 vir die gesogte jaarlikse SAMA Toekennings benoem is: ‘7 de Hemel’ het die SAMA vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album gewen en ‘Shine’ is benoem in die kategorie vir Beste Engelse Alternatiewe Album. Chris se talent as veelsydige liedjieskrywer en musiekverwerker is ook aangeprys deurdat die lied “Anywhere” vanaf ‘Shine’ die semi-finale rondte in die Internasionale Liedjieskryf Kompetisie (ISC) behaal het, en die lied “Droomland” vanaf ‘7 de Hemel’ vir `n SAMA vir Liedjie van die Jaa r genomineer was.
Chris Chameleon se sukses enw êreld-klas talent spreek verder duidelik uit die verskeie toekennings wat hy die afgelope paar jaar ingepalm het:
- Huisgenoot Tempo Toekenning vir Gewildste Afrikaanse Kontemporêre Album vir “Ek Vir Jou.”
- Vonk (VAMT) Toekenning vir Beste Solo DVD vir “Klassieke Chameleon.” 2008
- SAMA Toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album “7de Hemel”. 2007
- Erepenning toegeken deur die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir bydrae tot Ligte Afrikaanse Musiek. 2007
- FAK Toekenning vir Buitengewone Kultuurprestasie. 2007
- Vonk Toekenning vir Beste Manlike Solo Kunstenaar. 2007
- Vonk Toekenning vir Beste Liedjieskrywer vir “Sterredank.”
- KANNA Toekenning vir Beste Prestasie Musiekteater KKNK. 2007
- People`s Choice Gewildheidstoekennning vir Klassieke Chameleon by Aardklop 2007
- Huisgenoot Tempo Toekenning vir Gewildste Kontemporêre Kunstenaar. 2006
- Vonk Toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar. 2006
- Vonk Toekenning vir Beste Manlike Album “Ek Herhaal Jou.” 2006
- MK89Toekenning vir Beste Solo Video “Die Onverkrygbare.” 2006
- MK89Toekenning vir Sexieste Video“Die Onverkrygbare.” 2006
- AMT Toekenning vir Beste Manlike Album “7de Hemel.” 2007
- AMT Toekenning vir Beste Manlike Video “Groet.” 2007
Chris het in 2007 ook die gewildheids-lyste van twee bekende Engelse Suid-Afrikaanse tydskrifte gehaal: Hy is as no 6 op GQ tydskrif se Stylvolste Manlike Top 10 lys aangewys en het die afgelope twee jaar in HEAT tydskrif se 100 mees gewilde sterre-lys verskyn. (Heat Hot 100)
Chris Chameleon het in Julie 2007 sy derde Afrikaanse album ‘Ek vir jou’ bekendgestel.
‘Ek vir jou’ vertel die verhaal van die verloop van `n verhouding: vanaf liefde met die eerste oogopslag tot die uiteindelike ontknoping daarvan. Elkeen van die 11 liedjies is só geskryf dat dit op sy eie onafhanklik van die ander kan staan, terwyl dit terselfdetyd deel van `n chronologiese verhaal is. ‘Ek vir jou’ het in September 2007 goue status in verkope behaal.
`n Rock DVD getiteld ‘Flight of an Extraordinary Alien’ is in September 2007 uitgereik.
Chris en sy orkes het`n skouspelagtige rock vertoning in Stellenbosch se Stadsaal gelewer. Hierdie vertoning is op DVD opgeneem en is`n kleurvolle en flambojante tentoonstelling van Chris en sy orkes se veelsydige musikale talente.
Chris Chameleon het in Augustus 2007`n kontrak met ExcelsiorRecordings in Nederland geteken vir die verspreiding en bemarking van sy nuwe album ‘Ek vir jou’ in die Benelux lande. ( Nederland, België en Luxembourg.) Chris was vanaf 19 Oktober tot 29 November 2007 in Nederland vir `n teater- toer deur die Benelux lande saam met een van Nederland se mees gewilde groepe, “Spinvis.” Die toer was `n groot sukses: Die ontvangs was wonderlik en Chris se Cd`s het van die rakke af gevlieg. Resensies in verskeie Nederlande publikasies het Chris as `n besondere kunstenaar geprys.
Chris het verskeie toere in Nederland en België in 2007 en 2008 suksesvol afgehandel. In Okt- Nov 2008 het Chris `n groot indruk gemaak tydens sy eerste solo Teater Toer in Nederland. Chris het reeds in November 2007 by van hierdie teaters opgetree toe hy vir “Spinvis” geopen het. Hierdie keer, was Chris Chameleon deur Kik Produksies in Utrecht genooi om sy eie solo teater-toer te doen. Chris se vertonings het vol sale gelok en het op `n hoë noot geeindig met `n uitverkoopte vertoning by die bekende Kleine Komedie in Amsterdam.
Toekennings 2008:
Chris was in 3 kategorieë benoem vir die SAMA Toekennings 2008:
Beste Manlike Kunstenaar
“Best Global DVD” – Flight of an Extraordinary Alien
Beste Afrikaanse Kontemporêre Album vir “Ek vir jou.”
Hoogtepunte 2008 :
Chris Chameleon het in 2007 sy gehore by die Volksbladfees, Cultivaria Fees, Aardklop en by KKNK 2008 gaande gehad met sy produksie “Klassieke Chameleon.” Hierdie skouspelagtige vertoning is in Januarie by die Aula Teater in Pretoria opgeneem en is op DVD en CD beskikbaar.
Chris het nog `n nuwe produksie “Driekuns” tydens die Volksbladfees in Bloemfoentein in Julie 2008 bekendsgestel. Chris speel vir die eerste keer weer na sy Boo! dae baskitaar. Hy word bygestaan deur Jonathan Crossley op kitare, Leon Ecroignard op perkussie en Ampie Omo op klawers, trompet, tromboon en perkussie. “Driekuns” was ook by Cultivaria Fees, Paarl en by Aardklop 2009 aangebied en sal ook vanjaar by KKNK aangebied word.
In November 2008 het Chris `n onafhanklike nuwe Engelse album “Made Available” uitgereik.
Die album is `n spontane projek waarin Chris Chameleon`n nuwe aanslag vir n volgende album ondersoek het. Die eind-resultaat was vir Chris baie bevredigend en vandaar die besluit om hierdie pre-produksie album by vertonings en aanlyn by www.mymusiek.co.za beskibaar te stel. Navrae: www.chrischameleon.com
Nuwe uitreiking 2009:
Aanhangers kan uitkyk vir Chris Chameleon se nuwe Afrikaanse solo album “Kyk Hoe LykOns Nou” wat in Maart vanjaar uitgereik gaan word. Die musiek vanaf die nuwe album sal in `n nuwe kykNET dokumentêr met dieselfde titel “Kyk Hoe Lyk Ons Nou” gehoor kan word. Chris is ook die aanbieder van hierdie 4-episode-reeks wat handel oor die Afrikaanse gemeenskap. Die uitsaaidatums vir die reeks is nog nie bekend gemaak nie.
Toere 2009:
Chris sal in die komende jare byna die helfte van sy werktyd oorsee spandeer. Vanjaar beplan hy toere na Amerika, Namibië, Engeland en Duitsland en sal ook weer in Okt-Nov vanjaar terugkeer na Nederland en België vir`n hoë profiel teater-toer in beide hierdie lande.

|