| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

Chris Chameleon is nie net in Suid Afrika nie, maar ook internasionaal bekend vir sy buitengewone stemvermoëns, humorsin en besondere aanbieding. Sy uiteenlopende oeuvre strek oor ‘n groot verskeidenheid genres waarin hy homself telkens met lof onderskei het, ‘n stelling waarvan ‘n lang lys prestige toekennings as getuigskrif dien.

In 2012 neem Chris sy kreatiewe uitdaging op die verhoog steeds ‘n stappie verder met nuwe werk uit sy onlangs vrygestelde verdere toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte, soos te hoor op 'As Jy Weer Skryf', sy doelgerigte werk vir natuurbewaring in Afrika en ‘n nuwe lewendige aanbieding waarin hy op die verhoog homself meer beweeglikheid gun ten einde sy vertonings meer ge-animeerd en dinamies te maak.

‘n Besoek aan n Chris Chameleon vertoning is ‘n ervaring wat kykers telkens met verbasing vul, gehore keer op keer laat terugstroom en wat die standaard byna onmoontlik hoog stel vir die volgende aanbieding.


Chris Chameleon word beskou as n fenomeen op die Suid-Afrikaanse musiekfront.

Met sy eiesoortige, uitsonderlike styl en vermoë om gehore te bekoor met sy stem wat oor 4 oktawe strek, word Chris gereken as een van die belangrikste en mees gewilde kunstenaars van ons tyd.

Chris is die afgelope drie jaar bekroon met die indrukwekkende totaal van 16 toekennings, onder andere `n SAMA Toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album vir “7 deHemel” en `n Erepenning van die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot Ligte Afrikaanse Musiek.

 Chris Chameleon het sy loopbaan as `n akteur begin en het reeds op `n jong ouderdom `n DALRO toekenning vir sy toneelspel ontvang. Hy het tussen 1990 en 2000 in meer as 30 televisiereekse (oa Egoli, Konings, Sonkring, Glaskasteel), films en videos opgetree. Daarna het die musiekgogga gebyt en word hy die plofbare voorsanger en baskitaarspeler vir die bekende ‘monki punk’ trio Boo!

 In die 7 jaar van Boo! se bestaan het hulle wêreldwye aanhangers gewerf en meer as 800 vertonings in 17 lande gelewer. Boo! was ook na verskeie musiekfeeste in beide Europa en Amerika genooi, waar hulle die verhoog gedeel het met internasionale groepe soos White Stripes , Limp Bizkit, Slipknot, Franz Ferdinand, Cypress Hill, Coldplay ens. Boo! is in 2002 bekroon met `n SAMA Toekenning vir “Beste Pop album”.

Nadat Boo! in 2004 uitmekaar is, het Chris Chameleon teruggekeer na Suid-Afrika om sy herkoms te vier met die bekendstelling van sy eerste Afrikaanse werk: ‘Ek herhaal jou’, `n album met Chris se eie toonsettings van verskeie Ingrid Jonker gedigte.

Chameleon het met hierdie werk daarin geslaag om die digkuns van Ingrid Jonker op 'n modern toeganklike en sensitiewe wyse weer te gee. Chameleon se bydrae tot die herlewing van digkuns by n breër publiek is ook `n noemenswaardige gevolg van ‘Ek herhaal jou.’ Sy insluiting in die span aanstaande skrywers en digters vanuit Nederland en Curacao by geleentheid van die Derde Simposium vir swart Afrikaanse skrywers by UWK in 2006, onder leiding van Antjie Krog, is beduidend van die erkenning wat daar onder sommige van die voorste akademici bestaan vir die rol wat sy akkurate toonsettings in die bevordering van Afrikaanse digkuns speel.

Ek herhaal jou’ het in Augustus 2006 Goue Status bereik en in Desember 2007 Platinum Status. Die album was ook benoem vir `n SAMA toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album.

Chris se eerste solo DVD “Volkleur” is ook in 2005 uitgereik. “Volkleur” is opgeneem tydens `n vertoning by Die Boer in Dunrbanville en het goue status in verkope bereik.

In 2006 het Chris Chameleon die eerste Suid Afrikaanse kunstenaar geword wat op dieselfde dag twee totaal verskillende albums uitgereik het: ‘7de Hemel’, wat in Augustus 2006 platinum status bereik het, is Chris se tweede Afrikaanse album. Dit bestaan uit liedjies wat hy geskryf en gekomponeer het vir die karakter Liam, wat hy vanaf Mei tot Julie 2007 op 7 de Laan, SABC 2 vertolk het. ‘Shine’ is Chris se eerste Engelse solo album en die liedjies daarop is meestal opgedra aan spesifieke vroue in Chris se lewe.

Dit is `n besondere prestasie dat beide hierdie albums in 2007 vir die gesogte jaarlikse SAMA Toekennings benoem is: ‘7 de Hemel’ het die SAMA vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album gewen en ‘Shine’ is benoem in die kategorie vir Beste Engelse Alternatiewe Album. Chris se talent as veelsydige liedjieskrywer en musiekverwerker is ook aangeprys deurdat die lied “Anywhere” vanaf ‘Shine’ die semi-finale rondte in die Internasionale Liedjieskryf Kompetisie (ISC) behaal het, en die lied “Droomland” vanaf ‘7 de Hemel’ vir `n SAMA vir Liedjie van die Jaar genomineer was.

DNA Online - Website Design and Development