| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

Christo en Cobus

Christo Snyman, die oudste van die twee broers is gebore op 3 Oktober 1969. Gedurende sy Hoërskool loopbaan was hy onder meer lid en hoofseun van die Natalse Jeugkoor. Hy het formele onderrig ontvang in klassieke klavier, trompet en sang. Hy speel die kitaar sedert sy kinderjare.

Nadat hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoërskool Durban Noord, word Christo gekeur vir die Kanaries, (SAW - Kerkkoor en Konsertgroep) waar hy vir twee jaar as orkeslid en solis vir die groep optree. Na voltooiing van sy Nasionale diensplig sluit hy aan by Danie Botha, bekende Afrikaanse sanger, en tree op as baskitaarspeler en sanger in Danie se orkes.

Christo se besluit om 'n solo sangloopbaan te volg, lei tot sy bedanking by die orkes en hy verhuis na Kaapstad waar hy as solo kunstenaar optree. Terselfdertyd studeer hy Bemarking by die Kaapse Technikon.

Cobus Snyman is drie jaar jonger as Christo en gebore op 28 Maart 1972. Van jongs af het Cobus 'n musikale aanvoeling getoon en as kleuter reeds musiek onderrig ontvang. Reeds op vyfjarige ouderdom lewer hy sy eerste optrede met sang en kitaar, by die kleuterskool konsert. Op Laerskool word hy gekeur vir die Tygerberg kinderkoor. Sy ouers se verhuising na Durban gun hom die kans om as Kontrabasspeler sy plek in die Natalse Jeugorkes vol te staan.

Na sy skoolopleiding word Cobus ook gekeur vir die Kanaries en onderskei homself as kranige kitaarspeler en solis. Die sanger Danie Niehaus sien die talent van Cobus raak en na sy weermag opleiding tree Cobus op as kitaarspeler vir Danie. Terselfdertyd studeer hy voltyds musiek aan die Universiteit van Kaapstad met kitaar as hoof- en klavier as tweede instrument. In 1992 besluit Christo en Cobus om hul talente saam te voeg en as 'n Duet op te tree. Hul musiek en spontanïteit vind vinnig byval by die Suid-Afrikaanse publiek en word vinnig gewild by konserte, danse, feeste en alle geleenthede waar musiek benodig word.

Hulle tree ook op in voorvertonings vir meeste van die bekende sangers van daardie tyd. Dit was juis by so 'n voorvertoning waar Bles Bridges, Suid-Afrika se grootste plateverkoper, die twee raaksien en hulle word 'n permanente deel van sy konserte.

Hierdie landwye blootstelling het gesorg dat 'n hoë profiel platemaatskappy die twee manne uit die Kaap 'n kontrak aanbied. Die wiele het gerol en in 1993 is Christo en Cobus se eerste album uirgereik. Hierna volg verskeie ander (sien hieronder). Verskeie TV optredes het gevolg. "Musiekforum", "Tekkies", "Tussen Ons", "Boksemdais", "Liriekeraai", "Dis hoe dit is", "Dix Sê", "Noot vir Noot", "Die Margate Musiekfees", "Maak 'n Las" "Geraas" en "Belboks". Drie musiekvideos van die liedjies Drome van Gister, Sy leer my om te Jodel en Trein na Margate word gereeld op televisie uitgesaai

Christo en Cobus het ook saam met Suid-Afrika se internasionaal bekende groep, Mango Groove, opgetree. Gedurende Mei tot Julie 2003 het hulle 'n suksesvolle konserttoer saam met Steve Hofmeyr gedoen (15 konserte).

Christo en Cobus se sterk punt is beslis hul veelsydigheid. Die broers se repertoire strek van "Boesmanland" reg deur die "rock and roll" era tot by vandag se poptreffers. Hul lewenslustige humor en liefde vir mense maak hulle geliefd by die Suid-Afrikaanse publiek.

Aan die einde van 1999 het Christo en Cobus 'n klankateljee opgerig om hulle eie CD's daar op te neem. Die klank wat geproduseer is, was nuut en innoverend, gevolglik het ander kunstenaars hulle na die ateljee gewend vir hulp met produksies, waarvan die mees onlangse, Danie Niehaus se nuutste CD, Dagboek, hier opgeneem is.

Met die toekenning van die 2001 "Geraas" musiekkompetisie, was drie van die benoemings CD's wat by SMP-Klankateljee (Snyman Musiek Produksies) opgeneem is. Een van hierdie produksies is aangewys as wenner in sy katagorie. Die nuwerwetste ateljee met van die modernste klank- en opname toerusting word met kundigheid aangewend om top-kwaliteit produksies te verseker.

Met die uitsondering van twee is al hul CD's in hul eie ateljee opgeneem, alle verwerkings self gedoen en die meeste instumente self bespeel.

Nuwe winde het voorwaar vir die twee broers gewaai in die sin dat 'n splinternuwe platemaatskappy met die naam "Maroela Musiek " die lig gesien het waarvan Christo en Cobus 50% belang het. Gedurende Oktober 2002 verkoop hulle hul 50% belang in Maroela Musiek en stig hul eie platemaaatskappy. Sien elders op webwerf vir verdere besonderhede. Christo en Cobus is sinoniem met musiek en sy industrie en is landwyd beskikbaar vir optredes.

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development