Dewald Louw
Dewald is vir al die regte redes KykNET se eerste IDOLS wenner. Sy debuut-CD sowel as 'n video van die title snit "IN JOU OË", is in 'n rekord tyd onder die vaandel van Sony Music voltooi.
Hierdie kragtoer is opgevolg met sy tweede album "EK EN JY",wat spog met 'n Huisgenoot Tempo nominasie as Gewildste Popalbum, asook met ’n SAMA toekenning as Beste Afrikaanse Pop album. Die afgelope vier jaar hoor jy herhaaldelik Dewald se dinamiese energieke liedjies op verskeie nommer een trefferslyste op radiostasies landwyd, waarvan "LEKKER KRY" behoorlik die voete laat jeuk.
Hierdie boorling van Bloemfontein het daarbenewens gedurende dieselfde tydperk meer as 400 optredes landswyd by skole, kerke, feeste en korporatiewe funksies op sy kerfstok ingepas. Dewald is ewe gemaklik as sanger en seremoniemeester by vele van hierdie funksies maar geniet verhoogwerk eweveel, en is so pas aangewys om die hoofrol in die hoogsaangeskrewe verhoogstuk “DAWID” te vertolk wat 29 Mei 2012 in die Staatsteater open.
Dewald Louw se pad in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is geteer en daar is geen twyfel dat die 25-jarige energieke (gespel "sexy") kunstenaar binnekort superstar status sal beleef nie.

|