| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

Die Grafsteensangers – almal se gunstelling konsertitem!

Noem maar ‘n kerkkonsert, ‘n skoolopvoering of sommer net ‘n lawwe kampkonsert, en hulle is dáár, Die Grafsteensangers. Dikwels in ‘n kwalik-bedekte veranderde naam: Die Meulsteensangers, Die Begrafnisgangers en vele meer. Maar wie is die ‘mees nagemaakte vermaaklikheidsgroep’ in die land?

Die Grafsteensangers bestaan uit 13 lede met ouderdomme wat wissel van 16 tot 83. Hierdie unieke groep mense se liefde vir musiek is die magneet wat almal bymekaar hou. Saam dryf hulle naweek na naweek hul ondersteuners tot trane wanneer hul met komiese sang en toneelspel die lagspiere totaal uitput.

Die Grafsteensangers het tydens 1999 by die Aardklop kunstefees gaan kyk wat die publiek van hul dink, en om sommer ‘n lekker naweek by ‘n fees te geniet. “Die naweek het nog nooit opgehou nie! Ons sing, en geniet dit, nog steeds.” Tydens dié fees is hulle ook benoem vir die prestige Aardvark-toekenning vir innoverende werk.

Die groep het daar bekend geraak en sedertdien het 5 CD’s, ‘n video en ‘n DVD die lig gesien. CD’s nommer 3 en 4 is albei bekroon met ‘n GMT-prys vir Beste Humoristiese Album. CD 5, genaamd “Tannie met die Rooi Rokkie” is so pas vrygestel en is volgens kenners die groep se beste ooit! Die groep het in 2007 ‘n SAMA nominasie gekry vir die opgewekte dog treurige CD. Die DVD “Die Grafsteensangers - Lewendig” word ook hoog aangeprys .

Die Grafsteensangers is in 2005 deur die ATKV benoem as Akfrikone vir hul lojaliteit teenoor die Afrikaanse kultuurerfenis en die inspirerende manier waarop hulle Afrikaans bevorder.

Die groep bestaan uit die Weduwee, haar Rowwe Broer, die Suster, die Skoonsuster, Tweeling gebore tussen huwelike, die Oupa, die Ondernemer, die Hollander Toets van Boorgate en sy seun Pomp, die Grafgrawer, die Klynneef en word bygestaan deur hul tegniese ingenieur, die Draadloosmekêniek.

Met musiek van die Vosbroers, die Sterlig sangers, die Briels en vele meer bekoor hulle almal van oud tot jonk met hul besondere aanbieding van sang uit die jare toet.

Kom luister en kyk gerus na die oorspronklike Grafsteensangers, die mees nagemaakte groep in die land!

DIE GRAFSTEENSANGERS LAAT TRANE LOOP!
Getrou aan tradisie laat rol die Grafsteensangers weer trane van smart en vreugde met hul nuutste vertoning wat gedurende Junie 2006 in Bloemfontein by die Volksbladfees fees gedebuteer het. "Familiekiekies" is 'n hutspot (of is dit nou 'n stoompot!) vol heerlike liedjies, humor en kwinkslae wat oud en jonk na hulle sakdoeke en sneesies laat reik, om lagtrane af te vee.

Die Volksblad van 14 Julie sê: “Grafsteensangers se ‘kiekies’ is vrolik... Daar is iets van alle: spoke tot bootjies vir eensames. Saam met dié hele spulletjie sal jy beslis nie ween nie, want kyk, mistroostigheid was nog nooit so vrolik nie.”

Die groep het wyd en syd gaan soek om liedjies te kry wat by die tema van 'n kykie in hulle (deurmekaar en ingewikkelde!) familiealbum pas. Wyle Oom Danie Bosman, Oom Chris Blignaut en die Groblerbroers deel plekke tussen die kiekies met jongelinge soos Nicholis Louw se 'Ek wil my Baby hê vanaand' wat op 'n e(r)g Grafsteenwyse met 'n snik en 'n traan aangebied word.

Die Weduwee se familie herleef weer skandes en skades oor dekades. Die geraamde sêding met: 'Wat is 'n huis sonder 'n Vader/ Moeder?' vind weerklank in 'n soortgelyke ramp van epiese proporsies wanneer die manne ons vertel van 'Wat is 'n kroeg sonder bier!'

Aanhangers van die tradisionele Grafsteensanger-styl sal verheug wees om te hoor dat hulle weer terug is by hulle ou klank nadat hulle mos verlede jaar tussen die Kakies gaan heul het en allerhande volksvreemde liedere aangepak het. Die befaamde Christa Steyn, ‘n jarelange vriend van die groep, wat terloops ook al ‘n paar keer ‘n gas-rol in hulle vorige vertonings vertolk het, is die regisseur.

Kom blaai saam deur die albums en loer na hulle 'Familiekiekies'. 'n Familievertoning vir oud en jonk deur 'n unieke groep wat bestaan uit lede vanaf 18 tot 82!

Die Grafsteensangers in Kônsirt

By die Grafsteensangers het elke silwer randjie ‘n donker wolk!

Die groep spartel en spook om Die Weduwee uit haar moeilikheid te help. Smartsange, weenwysies en treurmares van toeka se dae is weer te hoor in hul skreeusnaakse nuwe vertoning.

Hulle musiektalent is onlangs weer bevestig met ‘n SAMA-nominasie vir hulle jongste CD “Tannie Met Die Rooi Rokkie”.

Met die nuwe vertoning, Die Grafsteensangers in Kônsirt (Die Weduwee se Dillemma), word van die ekspert regiss
eur, Carel Trichardt, se dienste gebruik gemaak om die familie en aanhangsels se verhoogpret – en vlymskerp satire – af te rond.

Kom lag 'n slag met musiekmanewales uit die hoogste rakke en laagste grafte

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development