Margit Meyer-Rödenbeck
is
Dowwe Dolla: Saal 10
deur
Hennie van Greunen
Dis Dolla se tiende jaar as staatslet, teatertert en dramadommie en sy vier dit deur haar drie-weke graad in die Medisyne te voltooi aan die UK (Universiteit van Kuba) en dan terug te kom na SA om die land reg te dokter. Sy het juis so goed omgesien na Fidel Castro dat hy sommer afgetree het. Dolla hoop om dieselfde effek op plaaslike politici te hê.
As gevolg van die mediese sektor wat so staak, is Dolla in beheer van elke aspek van die Binnewand Hospitaal: sy is die enigste dokter op diens in die Noodgevalle-saal, maar gelukkig het haar kursus 4 seisoene van Grey’s Anatomy ingesluit, so sy weet presies wat om te doen wanneer die Suid Afrikaanse Rand inmekaarsak en op die rand van die dood is. Sy is ook reg om Manto se breinoorplanting te doen – dit was toe ‘n groot fout om daai tyd ‘n lewer in haar kop in te plant.
Dolla moet ook ‘n fondsinsameling hou vir Binnewand Hospitaal sodat hulle nuwe tegnologie soos verbande en pleisters kan bekostig. Sy nooi al haar vriende in die vermaaklikheidswêreld en skinder oor almal – Dolla on E. (Sommige mense dink al lankal sy’s op E.) Brad en Ange is daar, so ook Steve, Dozi en die ander lede van die Medium 5-konsert, en natuurlik is die Oom ook daar….
Dit is ook vir Dolla ‘n gulde geleentheid om Eskom se probleempies vir hulle reg te dokter en om raad uit te deel oor wat om te doen in die donker. En natuurlik is daar Zuma wat by Ongevalle opdaag – shame sy umshini wami is verstop en hy weet glad nie hoekom nie.
Soos altyd het Dolla haar vingers stewig op die pols van die land (al sit daardie pols deesdae bietjie meer suid as wat hy moet) en haar Dowwe Dolla: Saal 10 word voorgeskryf vir elke pasiënt wat teneergedruk is oor die land en nie kan bekostig om te emigreer nie.
Die dokter is IN.
Margit Meyer-Rodenbeck
Margit Meyer-Rodenbeck, kort soos haar van lank is, is die vrou agter Dowwe Dolla. Hierdie is nou 'n mens wat nie weet hoe om stil te sit en for that matter ook nie hoe om stil te bly nie.
Miere in haar gat, is 'n heel gepaste uitdrukking om haar te beskryf of dalk; dinamiet kom in klein pakkies. Hoe dit ook al sy, energie het sy in oorvloed, maar vra jy haar sal sy haarself beskryf as bloot dom-astant.
Astrant is sy wel, te dom kan sy nie wees as 'n mens kyk na haar akademiese agtergrond nie. Margit word gebore op 29 Januarie 1970 in die Paarl. Sy word groot in Durbanville en matrikuleer dan ook daar aan die Hoërskool Durbanville.
In 1988 begin sy met haar drama graad by die Universiteit van Stellenbosch en dis dan ook haar alma mater vir haar honneursgraad (Cum Laude) in 1991 en haar meestergraad in teaterbestuur in 1997.
Nooit sou Margit kon droom dat sy self op die verhoog sou staan nie, haar kop het meer skryf, bestuur en regie se kant toe gestaan, maar nou staan sy haar skoene vierkantig as komediant, seremoniemeester, omroeper, spreker, stemkunstenaar, ensovoorts vol.
As jy kortliks haar loopbaan wil volg:
In 1992 word Margit aangestel as artistieke bestuurder by die Breughel Gemeenskapsteater in Cloetesville waar sy haar dan ook fokus op kinder- en gemeenskapsteater.
In 1993 stig sy en Eugenie Grobler, Scenario Toneelmaatskappy waar hulle fokus op kinderteater, werkswinkels en kabarette. In die loop van die volgende vyf jaar word talle skole met poppekas- en storieteateraanbiedings besoek.
Van die werk in die volwasse teater sluit in, Stardust, 'n kabaret saam met Tri x Pienaar en Eugenie Grobler, daarop volg Rouge waarin dieselfde geselskap die rolle van drie hoere vertolk, daarna volg eenpersoonvertonings soos 1652: Revisie, A Scorpio's Tail en 'n kabaret saam met Pedro Kruger, Blitzkrieg Brecht en die Rokkers. Pedro en Margit se paaie het reeds in 1990 gekruis toe hulle vir die Baxter Teater se Storyspinning Theatre Company gewerk het aan produksies soos Hansel and Gretel, Alice in Xmas Wonderland, Goldilocks and the Three Bears. Geen wonder dat hy dan ook Dowwe Dolla se pianis raak in 1998, bekend as haar doofstom nefie Sarel.
En verder:
In November 1997 begin Margit as "talkshow" aanbieder by Punt Geselsradio waar sy en Johan Prins elke weeksdag tussen middernag en drie uur die naguile entertain. Saam jaar hulle vir tien maande menige luisteraar se bloeddruk op, voor sy na die middagete gleuf skuif en dan tot en met die 14de Februarie 2000 is Margit die agtermiddag gasvrou tussen twee en vier.
Margit het 'n ongelooflike passie vir die radio, maar moes vanweë haar druk program dit eers 'n bietjie agterlaat. Haar gunsteling onderwerpe is beslis, vermaak, humor, aktuele en menslike sake. Sy het ook 'n wonderlike kinderprogram, Pikkiepunt, aangebied waar kinders hul menings kon lug.
Margit se privaat lewe, nou ja, die woord privaat sê dit alles. Sy is baie geheg aan haar familie en vriende en sou sonder die ondersteuning beslis nie kon doen wat sy doen nie. Die res.....privaat.........

|