Ghapi
“Wie ek is . . .”
“Ek is Ghapi, ek is ‘n singende drommer, ek is ‘n groot ou met woeste hare, ek is passievol oor musiek en my talent, ek is ‘n positiewe mens, ek is . . . “
“Wie ek is . . .” is Ghapi se tweede oorspronklike CD. Drie jaar na “In die diepkant in” sien die nuwe tweetalige album die lig. Eers het Ghapi gevra dat jy saam met hom in die diepkant moet inspring, en nou nooi hy jou om hom beter te leer ken.
Die CD bevat dertien snitte waarvan elf oorsponklike werke is. In die tradisionele Ghapi styl, bestaan die CD uit kommersiele rock, met ‘n titsel van ‘n country klank.
Weens die groot aanvraag, is daar twee liedjies van ander kunstenaars ook opgeneem. “The Devil went down to Georgia”, oorspronklik opgevoer deur The Charlie Daniels Band, gaan behoorlik die dans duiweltjies in jou wakker maak, en die passievolle “Stoom” van Amanda Strydom sal jou na mense laat verlang wat jy nog nie ontmoet het nie !
Kom ontmoet die “gentle – giant – Ghapi” gedurende sy eerste 2008 Kaap toer. Ghapi tree met sy vol groep op by Die Boer, Durbanville, Woensdag 16 Julie.

' n Tromspeler wat sing? Ja, raar maar waar! Ghapi is die groot man, met die groot stem, met die groot bos hare, wat sy groot tromstel aan die brand slaan!
Ghapi is in Januarie 2005 aan die publiek bekend gestel en het vinnig 'n reputasie met sy vierman groep opgebou as die nuwe Afrikaanse rock sensasie. Ghapi se uitsonderlike vermoeë om met die gehoor te kommunikeer en hul te betrek by sy vertoning, plaas sy optrede in 'n ander klas.
Ghapi het reeds 'n nommer een treffer op Valley Fm gehad met die liedjie In Die Diepkant In, 'n nommer vyf treffer op Kovsie FM met I Like It en die snit Wens het nommer ses behaal op O - FM.
Ghapi is nie 'n nuwe gesig in die musiekindustrie nie. Hy het twee en twintig jaar se ondervinding agter die blad. Meeste mense het Ghapi die afgelope vyftien jaar leer ken as die sanger en tromspeler van die groep Georgia.
Ghapi het sy eerste CD, In Die Diepkant In, gedurende KKNK 2005 vrygestel. Sy eerste radiosnit, Ek Wil Jou Hê, word landwyd oor radiostasies gespeel, en selfs 'n Duitse radiostasie het dit goed gedink om die snit op hul speellys te plaas. Die musiekvideo draai tans op MK89 en kykNET.
Die naam Ghapi is afkomstig van Philip se bynaam, Guppy. As baba was Ghapi geweldig lewendig en het sy pa hom na die bedrywige vissie vernoem. "My nuwe naam moet so eg aan my wees soos my bos hare, en wat beter as my bynaam? Ek het die spelling aangepas sodat dit 'n unieke woord is."
Ghapi is nie net 'n sanger en tromspeler van formaat nie, maar bestuur ook sy eie platemaatskappy, Rock Till You Drop Records. Die CD, In Die Diepkant In, is deur die maatskappy vrygestel.

|