Jak de Prieste
Mense wat weet wie Jak de Priester is weet waarskynlik hoe sy bekende lied “Sally Williams Nougat” klink – daardie lied wat menige Suid-Afrikaner wat al op ’n lughawe van ’n geliefde moes afskeid neem ’n traan laat pink. Maar dit is beslis nie die enigste rede waarom hy ’n gerekende Afrikaanse kunstenaar is nie. Hy word wel baie gesien met sy funky 4-piece band waar daar vyf mense op die verhoog is, maar sy mees intieme en genotvolle vertonings bly die klaviervertonings. In dié vertonings word Jak deur pianis Chris van der Westhuizen begelei. Dit is die tipe vertoning wat dieper raak en temas soos plekke, mense, reise en die liefde aanraak.
Jak sing van sy ouer liedjies, liedjies van sy nuutse album ‘Stellenbosch Lovesong’, splinternuwe liedjies, gunstelinge soos “Binnelanders” (die gewilde temalied van die M-Net-dramareeks) en “Sally Williams Nougat” maar ook sing Jak in hierdie vertoning ‘n paar gunsteling Kersfees liedjies. Natuurlik is ’n Jak de Priester-vertoning nie volledig sonder ’n paar stories uit sy lewe, gedigte uit sy bundel en gedagtes oor die jaar wat op sy einde is.
Na ‘n suksesvolle jaar met die produksie ‘De Priester en een Kerkorrel’ is Jak de Priester terug met ‘n splinternuwe Rock & Roll produksie wat hierdie keer die “issues” oor liefde aanpak. “Hoeveel goeie lovesongs het ‘n happy einde?”
Jak gaan grou in sy verlede om agter te kom hoe sy pad met die liefde geloop het en waar vandaan sy “commitment issues” kom.
“Ek wil weer ‘n lovesong kan luister soos toe ek ‘n teenager was, met puisies op my voorkop! Ek wil weer kan glo dat twee mense saam kan oud word en ek wil weer die betekenis van “true love” ontdek!” Die teks is komies en die songs “Beautiful”. Dis rock en roll! Dis blues en soul! Saam met hom op die verhoog is sy 4-piece “hot” band!
Van kindsbeen af het Jak de Priester geen geleentheid gemis om op die verhoog te wees nie. Toneel, sang, voordra van gedigte op kunswedstryde en toesprake het hom van kleins-af die adrenalien laat ervaar van hoe dit is om voor mense op te tree. In die Vrystaatse dorp, Parys, het hy sy skooljare met passie deurgebring en alles gedoen van sport tot kultuur tot akademie.
In sy standerd 9 jaar ontmoet hy Johan van de Walt; wat Drama by die skool kom afrig het. ‘n Snaakse man met lang hare en ‘n bulderende stem, maar ‘n mens wat ‘n standerd nege seun se lewe verander het. Jak het van kleins-af geweet hy kan toneelspeel en bietjie sing, maar nooit geweet dat êrens in hom skuil ‘n skryftalent nie. In sy matriek jaar, gee Johan hom die opdrag om die teks te skryf vir die skoolse toneelgroep wat aan die ATKV se tienertoneelkompetisie sou deelneem. Al wat Jak tot op daardie stadium in sy lewe geskryf het was opstelle en briewe in Afrikaans en Engels, as vak op skool en omdat dit nog altyd vir hom moeilik was om nee te sê, neem hy die taak toe wel op hom. So skryf hy sy eerste toneelstuk, getiteld “Nr. 10” , wat handel oor wit kinders wat noodgedwonge in ‘n plakkersgemeenskap moes gaan woon. Die Vrystaatse skoolgroep oortref alle verwagtinge en stof honderde skole oor die land uit om in die finaal in Kaapstad te gaan deelnaam. Jak ontvang daardie aand ‘n penning vir die beste speler en ook vir sy nuutgeskrewe teks. Maar, dit was nie net ‘n ronde, goue muntstuk en ‘n sertifikaat wat hy daardie aand ontvang het nie, hy het ook die geskenk en geloof in homself ontvang om te kan skryf en te wil skryf. Op daardie stadium het hy net geweet dat skryf en die verhoog deel gaan uitmaak van sy toekoms,maar hoe, waar en wanneer sou vrae wees wat eers later in sy lewe beantwoord sou word.
Nadat hy tale studeer het aan die Universiteit van Pretoria, asook HOD met Duits en Afrikaans as onderrigvakke, gaan werk hy in Londen, waar hy Duits en Frans as vakke aanbied. Duits, oordat dit is waarin hy opgelei was en Frans oordat hy moes! Tydens ‘n vakansie in Europa,raak hy betrokke by kinderteater in Holland en woon vir ‘n ruk in Purmerend, Amsterdam waar hy saam met die geselskap toer. Die teaters in Europa, Londen se West End en die kuns en musiek oral met sy reise, inspireer hom om sy eerste eenman vertoning in Holland te skryf, getiteld “Underground” wat in 2002 by die KKNK te sien was en in teaters oor die land. Dit was ‘n musiekteaterstuk wat oor die wel en weë van ‘n jong traveller in Londen en Europa handel. Later daardie jaar wen hy die ATKV Crescendo kompetisie en kry finansieel die geleentheid om sy eerste album, Getiteld “Sally Williams Nougat” op te neem, wat in die Aula bekendgestel is.
Daarna maak hy ook sy tv-debuut op SABC 2 Geraas en ‘n profiel op Kyknet se Kwela in einde 2002. Musiekvideo's word van die liedjies “Sally Williams Nougat”, “'n Lottokaartjie in Sunnyside” en “In die hitte van die oomblik” gemaak en ook van sy liedjie getiteld “Kerkorrel” wat as deel van die Kerkorrel Special uitgesaai was ‘n jaar na Kerkorrel se dood. Jak het ook almal verras en die Geraas Musiek Toekenning vir Beste Nuweling vir sy debuut album ontvang. In 2003 neem hy sy tweede produksie, “Strate is nie stom nie” na die KKNK toe en speel in teaters oor die land. Jak de Priester in “Soul-o performance” was sy derde verhoogproduksie en was ook te sien by KKNK en ander kunstefeeste en teaters oor die land.
Daarna was die tyd reg vir ‘n tweede album en einde 2004 word “Strate van my hart ” vrygestel, waarvoor Jak genomineer was vir ‘n GMT as Beste manlike solokunstenaar. September 2004 word Jak ook genooi om by die Huisgenoot Skouspel in die Sun City se Superbowl op te tree. Diè spesifieke geleentheid beskryf Jak as omkeer in sy loopbaan, bloot om die feit dat dit hom bekendgestel het aan die hele Suid-Afrika. Sy liedjie, Sally Williams nougat, het van daardie aand af ‘n gunsteling geword by talle Afrikaanse musiek liefhebbers en het sy vertonings gewild gemaak in ander dorpe en stede in SA. Cd verkope in die daaropvolgende maande het die hoogte in geskiet.Skielik is teaters vol en dit was die droom wat hy van skool af gedroom het. Daarna het nog groot konserte gevolg byvoorbeeld die Burger Kerskonsert in Kaapstad se Artscape Teater. Verdere televisie verskynings is op “Dis hoe dit is” met Steve en “Liedjie wat ons ken” met Rocco de Villiers en ‘n “cameo” rol in die nuwe SABC 1 reeks, Skin Deep, wat einde 2004 op SABC 1 te sien was, asook Kyknet se Gons en SABC Pitstop.
Jak de Priester was ook genooi om as gaskunstenaar op te tree by die Launch vir Domestic Violence deur SAMDI en minister Geraldine Frazer-Moleketi en was een van die gaskunstenaars by die SAPS se 10-jarige feesvieringe saam met PJ Powers en Malaika. In Mei 2005 was Jak ook een van die gaste op Nataniël se internasionale debuutshow in die Royal Albert Hall in Londen en by die “Nataniël and friends” show in Ceasars Gauteng. Twee boeke, uit die pen van Jak de Priester verskyn ook in 2005. ‘n Digbundel, getiteld “Heuning in die mond” wat reeds te koop is op die website en ‘n jeugroman wat later in die jaar sal verskyn, sodra dit gereed is vir publikasie.(kyk onder “Werke”, boeke)
|