| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

Karin Hougaard, Suid-Afrika se kaalvoet sangeres, is reeds die afgelope 25 jaar 'n huishoudelikenaam in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy maak haar debuut in 1980 as 16-jarige skooldogter as algehele wenner van die ATKV se Crescendo - die jongste wenner nog. As komponis skryf sy as skooldogter reeds musiek vir die Vrystaatse Kunsteraad se Leipoldt Gedenktoer. Haar eerste album EERSTE AFSPRAAK sien die lig in 1983. Die album verdien haar 'n Springbokradio Sarietoekenning as Beste Nuweling. Met HERONTMOETING (1988) raak sy meer betrokke in die produksiesy van die album en herbevestig sy haar invloed op die Afrikaanse musiekindustrie en word gesien deur die media as eerste popster in Afrikaans. Gedurende die era 1980 tot 1994 neem sy deel aan diverse televisieproduksies asook 'n wye verskeidenheid van konsertoptredes dwarsoor Suid-Afrika en Namibië.

In 1994 stel Karin die album BLY vry, 'n waterskeiding vir haar - omdat sy met die album totale kreatiewe beheer oorneem van haar produk. Met BLY breek sy weg van die tienerster beeld en word haar professionaliteit, volwassenheid en integriteit as kunstenaar voorop gestel. Die album bestaan meestal uit haar eie komposisies en geniet groot kommersiële en kritiese sukses asook ‘n benoeming vir ‘n FNB toekenning.

Die eerste CD single wat deur 'n Suid-Afrikaanse kunstenaarvrygestel word met 6 variasies van dieselfde lied - word deur Hougaard vrygestel in Junie 1997. THIS IS AS LOVE AS LOVE IS GONNA GET haal die topverkoperlys asook die top tien van verskeie radiostasies. Die cd behaal ook die eerste plek onder Engelsprekende lande by die 12e OGAE liedkompetisie in Spanje en die twaalfde plek in die algeheel.

MUSE sien die lig in 1998. Met die album kombineer sy vir die eerste keer Afrikaans en Engels op een album. Sy debuteer ook met die gelyknamige produksie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die album word in verskeie kategorieë benoem vir ‘n FNB toekenning.

Met rolmodelle soos Europese ikone Jacques Brel, Edith Piaf, was dit 'n logiese progressie dat Karin 'n album sou vrystel met van hulle musiek op. Dat Hougaard dit egter 'n kinkel in die kabel sou gee is ook seker logies, want sy verkies om dinge op haar manier te doen. Met METAMORPH (1999) plaas sy die musiek van Brel en Piaf in 'n nuwe konteks. Verwerkings (deur Didi Kriel) deurspek met Afrika elemente maak van die album iets unieks. Die verhoogproduksie verower by beide die KKNK asook Aardklop die toekennings vir innovering en grensverskuiwende werk. 'n Nominasie vir FNB SAMA toekennings as Beste Volwasse Kontemporêre album in Engels en 'n FNB VITA toekenning vir kostuumontwerp rond die suksesvolle prentjie af.

In 2002 nooi die formidabele Nederlandse kunstenaar Herman van Veen Karin om deel te neem aan 'n projek getiteld THE FIRST LADY - losweg gebaseer op die lewe van Jacqueline Kennedy Onnasis. Die teks geskryf deur Lori Spee (Amerikaans-Nederlandse sanger) en die regie deur Herman van Veen, maak vir Hougaard nuwe horisonne oop - die keer waag sy haar hand aan toneelspel. In Nederland en België toer die produksie met Lori Spee in die hoofrol as Jacqueline Kennedy Onnasis en Hougaard as dubbelspeler, maar in September 2003 kom die produksie na die Aardklop kunstefees met Karin in die hoofrol. Die uiteinde'n Onder die top 5 vertonings op die fees asook erkenning deur die kritici (Barry Hough beskou dit as die beste produksie) en publiek vir 'n kragtoer.

Op uitnodiging van Herman van Veen open Karin die Harlekijn Holland Produksiehuis se nuwe kantore (Desember 2002) met 'n opdragwerk - Karin Hougaard sings Queen. Die produksie met regie en teks deur Van Veen bring Karin dan ook na Suid-Afrika, Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2003. Karin se eerste "live" CD KARIN HOUGAARD SING QUEEN word ook deur Harlekijn Holland opgeneem en versprei.

Karin se assosiasie met Herman van Veen word in 2005 voortgesit met 'n besoek aan Friesland om te werk aan MATA HARI 'n nuwe werk deur Van Veen. In Maart besoek Karin België om deel te neem aan die vieringskonsert NEKKA NACHT van Herman van Veen se 60e verjaarsdag.

Sy is die enigste Suid-Afrikaner wat die eer te beurt val. Sy sing in Essen Duitsland in Junie en is in Oktober en November op toer met die produksie Mata Hari (Nederlandse teks) deur Nederland en Oostenryk.

HARTSTUKKE debuteer by 2006 KKNK en ontvang nominasies as Beste Kontemporêre Musiekproduksie, beste plakkaat en kry die KANNA as die INSPIRERENDSTE VROUE KUNSTENAAR by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2006.

OMNIBUS is Karin se nuutste vrystelling en is 'n versamelalbum met haar grootste treffers vanaf 1983-2006.

2007
Karin Hougaard se CD HARTSTUKKE word benoem vir ‘n SAMA Toekenning South African Music Award - in die kategorie BEST ADULT CONTEMPORARY ALBUM (AFRIKAANS).
Sy is voorts ook benoem in 3 kategorieë vir VONK AFRIKAANSE MUSIEK TOEKENNINGS : BESTE KOMPONIS, BESTE VROULIKE SOLOKUNSTENAAR; BESTE VROULIKE ALBUM.

2008
Karin hou haar eerste solo kunsuitstalling getiteld SOLO met ‘n verskeidenheid van grafiese werke en skilderye.
Haar woordbundel WOORDE SONDER WYSIES verskyn.
Sy neem ‘n nuwe CD single op getiteld DIE VERHAAL

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development