Laurika Rauch het gematrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, drama gestudeer aan die Universiteit van Stellenbosch en vroeg in die sewentigerjare haar graad verwerf. Sy het in die laat sewentigerjare 'n huishoudelike naam geword met haar eerste treffer, "Kinders van die Wind". Laurika was een van die mees prominente sangers wat betrokke was by die opbloei van die "nuwe afrikaanse lied" in die laat sewentig- en vroeë tagtigerjare.
Na twee jaar se betrokkenheid as aktrise by TRUK SPEELWERK in 1975-1976, het sy ook aandag getrek met haar vertolkings van Jacques Brel se musiek met haar optredes in Taubie Kushlick se Jacques Brel-produksies van die vroeë tagtigerjare, by die Chelseateater in Hillbrow.
In Augustus 1996 het die eer Laurika te beurt geval om met die Transvaalse Filharmoniese Orkes (herbenoem NAPOP - nou ontbind) in die Operahuis van die Staatsteater op te tree in 'n program wat uitsluitlik uit haar eie repertoire bestaan het. Die twee vertonings was uitverkoop.
Laurika het al in België, Nederland, Londen, die Tjeggiese Republiek en Duitsland opgetree. In Desember 1993 het sy voor 'n gehoor van 13 000 mense in Utrecht opgetree, begelei deur die bekende Metropole Orkes. 
In Maart 1997 het die Karels Universiteit in Praag haar en haar pianis uitgenooi om Afrikaans as die jongste been van die Dietse taalgroep te verteenwoordig voor 'n gehoor van akademici van regoor Europa en Oos-Europa. Die optredes was tydens die Departement van Nederlandistiek se 75ste Jubileum-feesvieringe by die Karels Universiteit.
Laurika is getroud met Christopher Torr, die komponis en skrywer van baie van haar grootste, asook mees onlangse treffers, soos Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Op Blouberg se Strand, Hot gates, Die Gang, Die mense op die Bus en My ou Tante Koba. Hulle het twee kinders, Simon en Nina.

|