| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

Laurinda Hofmeyr – op reis na die Suide

Met hierdie vertoning stel Laurinda haar langverwagte derde CD, Reis na die Suide, bekend. Die bekroonde sangeres is bekend daarvoor dat sy van die mooiste gedigte in Afrikaans tot sielvolle musiek omtower. Splinternuwe toonsettings (soos Breytenbach se “26 November 1975” en “‘n halwe engel”) sowel as ou gunstelinge (soos Eugène Marais se “Die dans van die reën”), nooi die gehoor om saam te reis deur bekende Suid-Afrikaanse landskappe. Laurinda word bygestaan deur jarelange musikant-kamarade, Schalk Joubert (baskitaar) en David Klassen (dromme). Die driemanskap is bekend vir hul musikale waagmoed en hierdie ontdekkingstog beloof om ‘n avontuurlike klankervaring te wees. Dis egter die reis deur die verborge innerlike landskappe wat medereisigers hulle harte sal laat vashou.

During this show Laurinda will launch her long awaited third CD, Reis na die Suide. Brand new compositions (such as Breytenbach’s “26 November 1975” and “‘n halwe engel”) as well as old favourites, invite the audience to travel along through familiar South African landscapes. Laurinda is accompanied by her long standing musician-comrades, Schalk Joubert (bass guitarist) and David Klassen (drums). This trio is known for their musical adventures and this journey promises to be an exciting sound experience. It is however the journey through the hidden inner landscapes that will grip the hearts of fellow travellers.

Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert is ‘n gedugte kombinasie. By hierdie jaar se KKNK is hulle onderskeie produksies beide vir Kannas in die musiek-kategorie genomineer. Maar dié twee speel eintlik al jare lank in dieselfde span. Schalk se Kanna vir Kayamandi bevestig net wat Laurinda reeds lankal weet : haar baskitaarspeler en vennoot is ‘n kunstenaar in eie reg.

Die eenvoudige maar intelligente verwerkings wat ontstaan as Schalk en Laurinda saamwerk, kan helder gehoor word in die program Hier langs my. Dié program bied Laurinda in haar mees gestroopte vorm, slegs met Schalk aan haar sy. Woorde soos "eksoties", "magies" en "sielvol" is al dikwels gebruik vir Laurinda se vertonings. Min kunstenaars kan digters se woorde só laat sing. Voeg by hierdie toonsettings die musikale gesels van twee ou vriende en jy kry Hier langs my. Net stem, klavier en baskitaar fyn ingestem op mekaar.

Geen uitvoering van Hier langs my is ooit dieselfde nie. Vir die program in Die Boer kan aanhangers heelwat nuwe klanke verwag: Splinternuwe toonsettings asook dié wat vir die eerste keer in hul meer gestroopte vorm gespeel word. Maar vir ‘n wintersaand beloof Laurinda en Schalk ook die bekende klanke van ou gunstelinge om die koue te verdryf.

Hierdie twee vernuwende musikante belowe musiek wat jou veel langer as die duur van "Hier langs my" sal bybly.

Laurinda Hofmeyr – Ligdag

“Ek voel effens geïntimideerd om hierdie album te resenseer omdat dit so briljant is”, sê RAPPORT TYDSKRIF se resensent van Laurinda Hofmeyr se nuutste album Ligdag. Hy bestempel dit dadelik as sy album van die dekade. Maar wie is hierdie kunstenaar wat selfs al op 16-jarige ouderdom vorendag gekom het met die treffer Ek het ‘n Huisie by die See?

Laurinda sit musiek by gedigte. Dis hoe sy verkies om daarna te verwys. Wêreldklas musiek en briljante musikante sorg dat enige Laurinda optrede ‘n digkuns-ervaring is uit die boonste rakke. Haar CD’s Perd oor die Maan en Ligdag sluit gedigte in van onder andere Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Ingrid Jonker. Tog is Laurinda se musiek nie hoogdrawend nie, maar sorg sy eerder vir eerlike en sielvolle vertolkings met ‘n vars en universele wêreldmusiek-inslag waarmee selfs die gehardste rockers kan assosieer.

Laurinda verander die gesig van Afrikaanse musiek en stel nuwe standaarde vir kwaliteit musiek in Suid Afrika. Haar CD en optredes sal jou uitboul, want “sy verstaan die brein, en sy verstaan die hart”. (ROOI ROSE)

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development