LieSl Marx:
“Bietjie meer as `n jaar in Gauteng, `n jaar as Inhoudsbestuurder by MK89, `n jaar in `n nuwe gelukkige verhouding, `n jaar van baie verdwaal op onbekende paaie en van baie min optree en myself weer vind. En nou: `n nuwe maatskappy, LM Produksies en dan vir die eerste keer, die regte tyd vir LieSl Marx, as uitvoerende kunstenaar”.
LieSl Marx, is hier en hier om te bly. Sy is `n lojale Cheetah ondersteuner, maar vir die eerste keer is sy terug by haar roots, in Gauteng, waar sy ook gebore is.
Sy het reeds verskeie professionele produksies op haar kerfstok en het ook by al die groot kunstefeeste en verskeie teaters regoor Suid-Afrika opgetree. Sy moes egter altyd gedeelde aandag daaraan gee weens haar day job - hetsy as teaterbestuurder of televisie se Inhoudsbestuurder.
“Dit was soms baie frustrerend om altyd te sorg dat ander kunstenaars en teaters se besprekings, technici en bemarking goed bestuur word en dat die admin agter die TV-skerms agtermekaar is, maar as ek terugkyk, is dit met geweldige dankbaarheid! Ek sou definitief as plattelandse poppie, ingesluk en uitgespoeg gewees het, deur die ongenaakbare kompetisie, fortuinsoekers en kritiek van die bedryf, waarvoor, ek soveel liefde en passie het.”
As opkomende kunstenaar het sy ook reeds`n paar toekennings ontvang.
Die uniekheid en krag van haar stem laat elke haar op jou lyf regop staan , haar eerlike en rou interpretasievermoë ruk aan jou siel en as jy na Water, haar debuutalbum luister, word jy ook verras deur die intellektuele en oorspronklike lirieke en musikale kwaliteit. Masker af, Jy`t my gekierang, Sy kyk na my en Oos-Vrystaat Blues, vier van die snitte op Water, is gelyktydig gespeellys op RSG.
LieSl was reeds `n gas op Kwêla, Pitstop, Dis hoe dit is met Steve, Gons, en het ook `n vinnige draai op die Villa Rosa -stel van kykNET gemaak. Sy hoop egter om een of ander tyd `n rol los te slaan in `n goeie televisiedrama of sepie.
Sy werk reeds aan haar tweede album, Warm - `n tweetalige album met rooiwarm liedjies - en beplan om dit in Julie 2007 bekeknd te stel. Anders as haar eerste album waarvan omtrent 90% uit haar pen was, het sy besluit om `n paar mede SA kunstenaars te vra om met die warm tema in gedagte, liedjies te skryf vir die nuwe album. Die Warm Projek, `n insamelingsprojek vir minderbevoorregte en mishandelde kinders sal saam met die CD bekendgestel word. `n Nuwe, warm verrassende produk sal ook saam met die album uitgebring word!
Vir meer inligting, besoek haar webwerf by www.lieslmarx.co.za of kontak vir Lydia Winchester by 011- 475 2187

|