| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

 

Lucas Maree

Noem jy Lucas Maree, dink jy aan die satiriese "Ek sal kan doen met ‘n miljoen", en die pragtige "Droomvrou", maar Lucas het intussen ‘n ver pad gestap en homself gevestig as ‘n gesoute musikant en ‘n storieverteller met ‘n styl waarop die meeste Maak ‘n Las-gaste afgunstig sal wees. Hierdie man, wat gehore aan sy voete gehad het met sy vorige konserte by die Boer, is hierdie keer terug saam met sy dogter Monica ,wat 'n musikant in eie reg is, en 'n nuwe dimensie aan Lukas se vertoning verleen.

Na amper drie jaar stel Lucas Maree weer 'n nuwe cd bekend. Met Blouberg het Maree besluit om een van sy ou passies uit te leef, naamlik om Afrikaanse volksliedjies te begin herskryf.

Dit is 'n droom waaraan hy al sedert die Miljoen-cd periodiek gewerk en baie oor gedink het. En boonop is hierdie cd geen "heilige koei" nie – 'n mens kan met hierdie album saamsing, dans en partytjie hou.

"Dit het lankal tyd geword dat ons iets doen om darem ten minste hierdie erfenis so 'n bietjie te restoureer, sê Maree. "Die Amerikaners en die Europeërs doen dit al vir jare, maar vir een of ander rede het selfs die FAK se liedjies onaantasbaar gebly."

"Daarom het ek besluit om van die liedjies te herskryf, sodat ek ten minste vir my kinders iets kan los wat op 'n manier iets sê oor die volk waaruit hulle gebore is."

Oor die titel van die cd sê Maree: "Dit kom uit die feit dat die blou berge nog altyd vir die Afrikaner 'n soort ikoon is vir dit wat gekruis moet word, omdat die vreugde of die vryheid of iets beter aan die anderkant te kry is. Dit is nog steeds waar vir die moderne Afrikaner, wat steeds op trek is omdat hy soek na iets daarbuite wat hy nie binne homself kan vind nie."

Oudergewoonte het daar 'n klomp kunstenaarsvriende gehelp om aan hierdie projek te werk. Christa Steyn het onder andere as musiekregisseur opgetree. Haar klavierspel kan ook hier en daar gehoor word. Jannie du Toit, jarelange vriend en geesgenoot, tree ook as sanger op hierdie album op.

Dan is daar die juweeltjie, Sarie Marais, wat deur Coenie de Villiers verwerk en geregisseur is.

Maree gebruik ook tradisioneel jonger kunstenaars, en hierdie album is geen uitsondering nie, want die talente van Anna Davel en Sunieda de Beer kan gehoor word, sowel as dié van Marius Appelgryn (tromme), Leon Ecroignard (bas) Pierre Schnehage (Fretless Bass) en David Jooste (akkordeman, klawerbord en klavier).

Op die album verskyn liedjies soos: Vat jou goed en trek Ferreira waarin goediglik gespot word met die trekkergees van die Afrikaner, wat deesdae besig is met 'n nuwe soot "Groot Trek".

Sarie Marias, waarin die storie van 'n volk vertel word wat nog steeds verlang na 'n Ou Transvaal; Suikerbos, wat gaan oor 'n oudjie wat te skaam is om vir sy meisie te sê dat hy haar wil hê.

My hartjie, my liefie gaan oor die seisoene van die liefde. Liewe Maan, 'n moderne, maar moeë mens se nabetragting oor die mens se onvermoë om een les by die maan te leer, naamlik dat ons almal met geleende lig skyn, en dat jy geken word aan die lig wat jy verkies om te reflekteer

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development