MAGDA MAG MA MENOPAUSE HÊ
Met Petro van den Heever as MAGDA
Regie: Gaerin Hauptfleisch
Teks: Leon Kruger
UITVERKOOP OP KKNK 2005
UITVERKOOP OP AARDKLOP 2006
UITGESAAI OP KYKNET
'n Eenvroukomedie oor menopause, geskryf vir die alledaagse vrou deur 'n versigtige man!
“ Sit die fan aan asseblief…sal iemand asseblief die fan aansit…kan ek asseblief ‘n donnerse fan op die verhoog kry…NOU!!!!”
Sy is die befoeterde vrou wat hul Magda noem. ‘n Ma, ‘n lover en ‘n vrou in haar oorgangsjare. Jy gaan lag, jy gaan huil, jy gaan huil van die lag!
Oops! Oops! Sh...Dê...daar gebeur dit nou, agge nee, nes ek dink ek is ok, dan gebeur dit…dammit, shit, hel. My derde kreun. Ek kan dit nie glo nie…nou al. Derde kreun in 51 jaar 11 maande en ‘n paar dae. My ouma het altyd gesê dat ‘n vrou net 3 keer in haar lewe kreun en dat dit elke keer ‘n soort mylpaal in jou lewe aankondig.
Ja, dit het gebeur, Magda se oorgangsjare het begin. Hulle noem dit menopause, maar vir haar is daar geen pouse aan die hel wat sy nou moet deurmaak nie. Oorgang van wat na wat, is dit tyd dat meisie vrou word of tyd dat vrou wolf word. “…iemand, bring die fan nader asseblief!” Eers is dit die oë – is die arm nou net te kort, of wat gaan nou weer met my aan? Maar as dit die oë is dan weier ek om daai Clicksbrille te dra, ag nee man, hulle laat almal soos gefrustreerde wiskunde onderwysers lyk...sorry, no offence!! Dan is dit van die een dokter na die ander, almal met sy eie teorie en 'n oplossing in 'n pilletjie...miskien moet ek bietjie sit, die ontwateringspilletjies werk glo beter as jy sit. Agnee, ek kan ook nie sit nie, want dan gloei ek weer soos Marthinus van Schalkwyk in een van sy cheap suites.
Dan kom ons by daai dokter, ja, daai dokter...vir wat is hulle altyd mans?
Ons toer saam met MAGDA deur al haar vrae, uitbarstings en trane, gesels selfs met Eva (MAGDA is oortuig daarvan dat die menopause ding Eva se skuld is.) Ons gesels selfs met haar dogter wat nou in Londen werk en hoor hoe MAGDA elke jaar op haar besondere manier die kind se verjaardag vier.
Kry MAGDA die antwoorde en oplossings waarna elke vrou soek?
N.B Los maar jou maskara by die huis!

|