Die Melktert Kommissie, ‘n 5-stuk oorspronklik van Jeffreysbaai, is die wenners van die eerste Jip-Rockspaaider Kompetisie in 2002.
Ons is nogsteeds aan die gang en nou voltydse musikante. Ons het die afgelope drie jaar die land vol getoer (met ons mengsel van oorspronklike akkoestiese rock, blues en ballades) en ook by verskeie feeste opgetree. Onder andere KKNK, Innibos, Volksblad in Bloem, Gariepfees in Kimberley (sept) en Aardklop (sept).
Die aanhangers is van alle ouderdomme en die belangstelling strek van die Kaap tot in Nelspruit. Ons het ons debuut CD, Volroom, opgeneem in 2003 onder Rhythm Records en word versprei deur Select Music Distribution.
In 2004 het ons die Kouga Streek se Entrepreneur van die Jaar toekenning ontvang en ook 3 musiek videos en verskeie TV programme opgeneem. (Pasella, Die Liedjies Wat Ons Ken, Kwêla) 2005 was ‘n jaar vol opwindende en groot stappe vir Die Melktert Kommissie waarvan die volgende hoogtepunte was:
• Verhuis van Jeffreysbaai na Pretoria om voltyds musiek te maak
• Toer in Londen
• Die MK89/Powerzone Campus Invasion toer, waar ons reg oor die land by al die kampusse opgetree het
• Produksie by die Innibos Kunstefees in Nelspruit
• Opname van die tweede CD in November
• Die opname van nog twee musiek videos
• Die opname van verskeie TV programme vir MK89, “AMP” & “GONS”
Die Melktert Kommissie trap original spore oor die Afrikaanse musieklandskap. Van die grondpad wat almal ken, draai 'n tweespoor-paadjie af deur velde wat die Voortrekkers misgekyk het.
Vergeet van Idols, cover versions en wannabe-sterre – die vyf vriende van Jeffreysbaai tune hul eie ervarings, hul eie vrese en drome.
Oor die bietjie meer as twee jaar sedert hul debuut-CD, Volroom, opgeneem is, het Lucinda Strydom (lead vocals), Betsi van Zyl (akkoestiese kitaar & vocals), Jean-Marie Vlok (elektriese kitaar), Jan-Adriaan Korff (tromme) en Tim van der Westhuizen (baskitaar) tot 'n hegte eenheid gegroei en mense landwyd volroom-rock laat proe.
Ná hul eie groot trek Pretoria toe en 'n suksesvolle toer in Engeland is hul tweede CD, Wonder Woorde (weer in Stellenbosch) opgeneem. Die lirieke is meer diepliggend en die emosie meer kompleks. Strydom kyk met groter insig na binne wanneer sy sê: "gisteraand het jy jou lippe aan my siel afgevee"
Tog raak DMK nooit swaar of swartgallig nie. Hulle is immers proudly South African, jong mense wat die Land van die Son wil laat werk, met geen begeerte om aan die werklikheid te ontsnap nie. Hul eerlikheid maak dat ouer mense net soveel aanklank vind by hul musiek as die jonges wie se taal hulle praat.
Van Zyl vorm die intreepunt met hul gehoor. Sy tune in op die energie – van donker rugbyvelde vol vryende skoolkinders tot rustige teaters met die meer bedaarde soort applous wat grootmense gee – en weet instinktief waar om te terg, waaroor om te spot en wanneer om die mes op haarself te keer. Korff en Van der Westhuizen se drum & bass soek mekaar op en vul mekaar aan soos ou vriende wat nog net so lekker kan poetse bak wanneer hulle 'n song vir nog 'n bietjie langer uitrek.
En Vlok is eenvoudig foolproof op elektrisiteit. Suid-Afrika se antwoord op Fleetwood Mac is 'n huis met drie vroue en twee ouens wat die ritme van 'n nuwe generasie verwoord.

|