Op die vrou af 2 (dit vat 2 om te tango) teks en liriek deur Hennie van Greunen na André le Roux se rubrieke in Sarie Met Pedro Kruger en Jolette Odendaal Dis vier jaar na die fenomenale sukses van Op die vrou af wat in 2004 by die KKNK geopen het voordat dit vir die volgende twee jaar landswyd getoer het en deur meer as 80 000 mense gesien is.
En in dié vier jaar het André le Roux verder in die psige van die man en die vrou rondgekrap en uitgevind dat hulle so ongelooflik mooi bymekaar pas ten spyte van hulself. Want as hulle op vakansie gaan, pak hy ‘n kortbroek, t-hemp plakkies terwyl haar 4 tasse onder andere haar tiekiehake en swart nommertjie wegsteek, is dinge aan die brand.
As hy sê ‘Ek gaan winkel toe, het jy iets nodig?’ en sy antwoord: ‘Moet ek ‘n lysie maak?’ dan weet ons hier kom sports. Wat van die 10 goed wat mens nooit NOOIT vir ‘n vrou mag sê nie, en wat bedoel sy rerig as sy sê sy wil net ‘ietsie kleins’ vir kersfees hê? Hoe moes hy weet ‘ietsie kleins’ is nie ‘n handgrootte stofsuier nie. En as hulle valentynsdag vier by ‘n restaurant en die tangomusiek begin speel, dan kom dinge mooi op dreef.
Pedro Kruger is terug as Hy: die man, die euwel, die verwer, die onwillige inkopie-metgesel. Deur die afgelope paar jaar het Pedro ‘n reputasie opgebou as een van die mees veelsydige vermaaklikheidskunstenaars wat tans in Afrikaans werk. Sy uiteenlopende projekte as akteur sluit in: Festen, Die Tafel, Die vrou wat haar man gekook het, Lyf en Anna se Engel. As regisseur en spelleier was hy die afgelope paar jaar ook betrokke by feestreffers soos Die Hangkas Haas, Shirley Valentyn en Die Swart Bank. As spankaptein op Lirkiekeraai kuier hy weekliks in die volk se sitkamers en André le Roux se dialoog pas Pedro soos ‘n handskoen.
Sy word gespeel deur die ewe talentvolle Jolette Odendaal, eertydse lid van Cutt Glas en die ster van wegholsuksesproduksies soos JillJol 1 en 2, Big Band Blast, Imbumba en Houtkruis. Hennie van Greunen (teks/liriek en regie) se CV lees soos ‘n lys van top-produksies op die feeskringloop deur die afgelope dekade: Blougat, Lyf, Festen, Shirley Valentyn, Breinbliksem, K, Die Hangkas Haas en Die vrou wat haar man gekook het het mense laat skater, laat huil en laat nadink.
Hoewel die produksie sy debuut maak by dié jaar se Aardklopfees, kan jy ‘n skelm voorskou kry by Die Boer in Durbanville op 24- 26 September 2008. Bespreek by 021 979 1911.

Daar is meer aan Pedro Kruger as net die boytjie van Brackenfell. Ons het hom leer ken as die talentvolle man agter die klavier in Liriekeraai, en met die bekendstelling van sy album ‘Hier in die grys’ druk hy sy eie stempel op Afrikaanse musiek af.
“Mense het al meer na vertonings kom vra of n sekere liedjie nie op CD beskikbaar is nie,” vertel hy. “Almal het hul eie gunsteling en daarom het ek besluit die tyd is nou reg vir n nuwe album.”
Natuurlik is sy verwagting dat elke huis een moet kry, lag hy. “My vorige CD het nie juis n unieke klank gehad nie. Die een het. Daar is ook n goeie ooreenkoms tussen die CD en wat ek in my vertonings doen. Ek begelei myself altyd op klavier, en klavier maak n groot deel uit van ‘Hier in die grys
“Die liedjie ‘Oom Ben se huis’ is spesiaal vir die album geskryf, maar ‘Ek droom jou’, die duet met Mynie Grovè, kom uit die kabaret ‘Die laaste aand’ ,en as ’As tyd kon toor’ kom uit ‘Hangkashaas’. “n Liedjie wat ek vir my pa geskryf het, ‘Swart en wit’, is ook een waarvoor mens gereeld vra.”
Meer as 20 000 mense het die laaste jaar of wat al die plesierige kabaret ‘Op die vrou af ’ – wat gegrond is op Andre le Roux se rubrieke in Sarie, met Pedro en Sarah Theron op die verhoog – gesien en daar is steeds geen keer aan die sukses nie. “Ek dink dit gee vir mense wat hulle wil hê. Mense is moeg getob. ‘Op die vrou af ’ lat hulle lag en gee mense n huppel in hul stap,” sê Pedro. Die nuwe reeks van Liriekeraai het op 29 Oktober op Kyknet begin en die plan is om nog n nuwe reeks in Februarie te skiet.
“Die reeks is groot pret en ek is baie bly dit het in my lewe gebeur,” sê hy. Intussen het Pedro en sy kreatiewe vennoot, Hennie van Greunen, n nuwe eenmanvertoning ingeskryf vir volgende jaar se KKNK, maar hulle wag nog om te hoor of dit aanvaar is. “Dit was n woeste jaar. Ek kla nie, maar ek sien baie uit na my vakansie in Kenia in Desember. Dit voel vir my of ek aanhoudend op n vlegtuig iewers heen is. Ons was nà Aardklop in Upington en daarna in Johannesburg vir die tv-opname ’Hangkashaas. Soms wens ek ek kan in n koffiewinkel in Londen gaan werk, maar my ma sal iets oorkom as ek landuit moet gaan,” lag hy.
Een van sy groot drome is om sy eie kletsprogram op tv te hê. “Almal wil Oprah wees, maar ek sal graag wil praat oor dinge in die lewe wat help om mense se lewe beter te maak. Ek tree gereeld by vroueoggende op en ek het dalk nie kinders nie of is nog nie te oud nie, maar ek kan lekker daaroor praat. As dit werk in my vertonings, hoekom kan dit nie op tv ook werk nie?”

|