Pieter Johannes Jacobus Smith is 19 Augustus 1975 in Potchefstroom gebore en is die jongste van drie kinders, sus Margaret en broer Jaco. Hy het reeds op die vroeë ouderdom van vier sy voorliefde vir die kitaar ondek en vanaf sewejarige ouderdom professionele afrigting ontvang. In 1993 het Pieter sy skoolloopbaan voltooi aan die Hoërskool Gimnasium, waar hy deel gevorm het van verskeie Rock Bands. Vandat Pieter agtien jaar oud is, tree hy professioneel op.
Na skool het Pieter sy tersiêre opleiding in Musiek- en Musiekonderwys voltooi waarna hy as gekwalifiseerde onderwyser by die Laerskool Queenswood skool gegee het en betrokke was by kitaar-, koor- en revue afrigting. Steeds was Pieter se passie vir musiek onvervuld en het hy Woensdag- en Donderdagaande by verskeie kuierplekke in Hatfield Square vir ‘n appel en ‘n ei gesing. Dis ook daar waar Gert Spoelstra (Pieter se bestuurder) sy talent raakgesien en besluit het om dié talentvolle sanger aan die land bekend te stel.
Pieter is een van ‘n handjievol kunstenaars wat self sy lirieke skryf en toonset. Boonop is hy die vervaardiger van al vier sy CD’s – wat iets verklap oor sy talent asook sy verbasend wye musiekkennis.
In 2001 het Pieter se optredebesprekings in so ‘n mate begin instroom, dat hy die onderwys vaarwel moes toeroep. Sy se eerste debuutalbum, Rooikar, sien die lig in 2002.
Tyd vir terug kyk was daar nie. Vyf harde jare van bloed sweet later in die uiters mededingende Afrikaanse musiekindustrie, is Pieter Smith een van Suid-Afrika se top kunstenaars wat tot vyf optredes per week (oor die 200 optredes jaarliks) het. Pieter is in so ‘n mate suksesvol, dat Steve Hofmeyr hom by geleentheid as die partytjiemaker van die dekade asook een van ons land se mees begaafde liedjieskrywers uitgewys het. Ander reken weer dis beter om eerder sáám met Pieter te werk as teen hom, siende dat hy met sy unieke optredestyl die Suid-Afrikaanse volk tot ‘n hegte eenheid kan bind – iets wat nie in enige kunstenaar se broekspype sit nie. Praat jy met Pieter, kom jy gou agter waar dié veelsydige kunstenaar se hart lê - in Suid-Afrika, “die land waarin hy sy kinders wil groot maak sy kleinkinders wil hoor Afrikaans praat”. Dit is die motivering waarom hy liedjies soos Die Land en Hier by jou Suid-Afrika geskryf het. Lirieke wat enige voornemende emigrant na introspeksie dwing. (Albei liedjies is vanaf sy album Die Een.) Voorwaar is kunstenaar wat hier is om te bly! Pieter tap nie net uit Afrikaanse musiek nie, maar met kreatiewe skeppings uit sy pen, ploeg hy op ‘n besondere manier terug in die bedryf.
Kopiëring van CD’s is ‘n skerp doring in Pieter se vlees. Soveel so dat hy gekopiërde eksemplare sal breek, sou hy dit onder oë kry. Vra jy Pieter daaroor uit, lug hy sy opinie prontuit. “Kunstenaars werk baie hard om ‘n CD uit te bring en spandeer baie tyd en geld aan daaraan. Wanneer iemand dit kopiër, steel so ‘n persoon die kunstenaar se produk en inkomste wat die gevolg het dat die musiekindustrie nie ‘n bestaan kan maak nie. Dis niks anders as diefstal nie.” In dieselfde asem rig Pieter ‘n versoek aan alle musiekliefhebbers om die industrie te ondersteun deur oorspronklike CD’s en verwante produkte te koop en nie kopië te laat maak of dit onwettig van webtuistes aflaai nie.
HOOGTEPUNTE IN PIETER SE LOOPBAAN
Pres Thabo Mbeki nooi Pieter na Erfenisdagvieringe in September 2005 om die Afrikaanse gemeenskap van ons land te verteenwoordig. Kort nadat pres Mbeki sy toespraak gelewer het, het hy vir Pieter op die verhoog verwelkom en selfs van die bekende liedjies saam met Pieter gesing.
Pieter is in 2003, 2004 en 2005 met ATKV-toekennings vir sy positiewe bydrae tot Afrikaanse musiek vereer.
Sy naam verskyn op die kortlys vir 2006 se SAMA toekennings.
Hy tree by Skouspel! 2004 op.
PIETER BY DIE HUIS
As Pieter nie sy vriende by die huis onthaal nie, geniet hy dit om voor die TV te ontspan met ‘n paar goeie DVD’s en om tyd met sy honde Lucy (Schnauzer) en Murphy (Skotse Terriër) te spandeer. Verder is geskiedkundige boeke vir Pieter ‘n groot trekpleister, veral omdat hy ‘n groot passie vir geskiedenis koester. Hy geniet dit ook om te fliek en te gaan uiteet.
Pieter is baie lief daarvoor om tyd agter die kospotte te spandeer en eksperimenteer graag met eksotiese smake en disse wat jou mond laat water. Van ‘n skaap op die spit tot maalvleis uit sy pot - hy omskep dit in ‘n heerlike feesmaal. ‘n Gasheer wat geen moeite ontsien om elke kuiergas welkom en tuis te laat voel nie.
Diepseevisvang is naas musiek sy grootste passie - hy probeer dit soveel moontlik in sy besige skedule inpas. Sy groot droom is om eendag ‘n boot van sy eie te hê en hengelaars op diepseevisvang-ekspedisies te neem. Nie net doen hy dit vir ontspanning nie, dit inspireer hom ook om sy gedagtes op papier vas te lê. Liedjies soos Plettenbergbaai (vanaf die album Man op die Maan) en St Lucia (vanaf die album Die Een) verklap sy euforiese liefde vir die kus.
PIETER OORSEE
Pieter se aanhangerslys strek veel verder as dié van Suid-Afrika. Hy tree elke tweede maand in Londen op waar hy ook in 2005 tydens ‘n geldinsamelingsprojek vir die Nelson Mandela Kinderfonds, ‘n optrede gehad het. Vir elke verkoopte kaartjie, is ‘n pond aan die wêreldbekende fonds afgestaan.
Vir die afgelope drie jaar, tree Pieter saam van ons land se top kunstenaars by die jaarlikse Kanasiefees in Kanada op waar hy minstens drie weke spandeer. Dan was daar die Eurokasiefees wat in Holland ( Amersfoort ) gehou is, waar Pieter se naam ook op die kunstenaarslys verskyn het. Gehore in België en Holland is vir Pieter ‘n groot uitdaging en mikpunt vir 2006. Hy glo dat daar ‘n groot mark vir Afrikaanse musiek is en die moontlikheid dat Suid-Afrikaanse skeppings daardie gaping kan vul, is nie onmoontlik nie. ‘n Kunstenaar wie se talent vir seker nie beperk is tot ons landsgrense nie.
DIE OPTREDES
As jy gedink het jy gaan met gevoude arms agteroor sit en ‘n show bywoon, het jy ‘n fout gemaak. Saamsing en vermaak uit die boonste rakke met asemrowende klank- en beligtingseffekte, is nader aan die waarheid van ‘n tipiese Pieter Smith & live band-show. Energie- en aksiebelaaide konserte vir oud en jonk is deel van sy optredes. Vanaf Januarie 2006 het Pieter se shows ‘n heel ander wending aangeneem wat die optredes nog meer interessant maak en vir ‘n meer volledige klank sorg. Hy toer deesdae die land vol met sy orkes met Leon van Rensburg op baskitaar en Sean Kenselaar op dromme. Een van die hoogtepunte tydens die optredes is gewoonlik Pieter se kitaar solostukke waarmee hy die gehoor trakteer en telkemale luidkeels laat saamsing. Wanneer die lus gedurende ‘n vertoning vir Pieter beetpak, sal hy soms die dromme met Sean deel - gewoonlik tydens so ‘n sessie word daar nie onnodig stokkies gedraai tussen dié twee nie! Nog ‘n hoendervleis-belewenis is wanneer Pieter en Leon mekaar die stryd aansê met die kitare tydens hul unieke kitaar duel – vervolmaakte kitaartegniek in die beste vorm denkbaar. Pieter Smith en sy band – beslis ‘n trio om mee rekening te hou.

|