Robbie Wessels
TV-kykers ken Robbie Wessels as die gewilde humorkarakter Poena in SABC2 se reeks Gauteng-alêng.Nou is sy debuutalbum uit: reeds gestempel met goue status!
Dié Vrystaatse boerseun het ‘n bekoorlike rasperstem. Hy breek alle konvensionele musikale reëls en skep aweregse musiek wat nie net in sogenaamde alternatiewe kringe opslae maak nie, maar ook by die meer kommersiële mark aanklank vind.
Sy werk word gekenmerk deur ‘n liriese vertellyn, vervat in melodieuse, boeiende kampvuurstories. Die humor is skérp en hier en daar in die konteks van die gegewe kragwoordgekrui; aangebied in glimlagplooiende aanvaarding.
Dié aanslag het hom reeds ‘n getroue studentegevolg opgebou. Robbie vertel stories met patos. In eke glimlag is daar ‘n stukkie hart wat die luisteraar tot nadenke stem.
Robbie is ‘n folkrock-verteller, gegrond op sy ervarings. Daar’s die bloosstout-vertelling oor Snoekie, ‘n “danseres” met ‘n “geweer” in haar broekie. Hy skets Pieter van Zyl se skeidsregtermoerdery, vertel van die skewe koshuispoetsbakker Henno de Vos in Hou vas jou matras en onthou Prop, ‘n onderwyser wat diep spore in sy hart getrap het, Die Wissingbroers en John West – almal onthoumense uit sy kinderdae.
Robbie se vertoonings is gestempel met ‘n meevoerende ballade-aanslag, propvol nostalgie en eerlike, natuurlike vertolking.
Tussen die aangypende werk wat veral die aandag op Robbie Wessels se musikale talent en liedjieskryfvernuf vestig, is die snitte Waar Lê Jy Vanaand?, Verbode Vrugte en Reënboognooi, maar, dit is veral die epiese snit My Vissermanvriend se Pa wat diep tréf. En hy róck behoorlik op die alkohol-ode Bones: ‘n alternatiewe rots!

|