Sarah Theron
Sarah Theron is terug met STORM in 'n D-Cup! Splinternuwe Afrikaanse volkswysies om aan jou hartsnare te pluk en stuitige tong-in-die-kies Country-Blues. Sarah lewer ook haar grootste huldeblyke op aanvraag - maak reg vir Purple RainBridge Over Troubled Water én Gloryland! Laat die storm in jou losruk en daai diva in jou hooggety vier soos nog nooit tevore!
"My songs gaan op een of ander level maar altyd oor girlpower. Ek's 'n late bloomer wat onlags weer haar doel in die lewe herontdek het: Ek is gebore om myself en ander aan ons eie krag te herinner! Ek's 'n size 40 wat haar verbeel sy's Barbie" - Sarah Theron
Sarah se nuwe album, STORM in ’n D-Cup is sopas benoem (enigste dame in die kategorie) vir ’n GHOEMA_TOEKENNING in die BESTE COUNTRY ALBUM-kategorie. Sarah haal ook onlangs Simon Rademan se “Best Dressed RSA Top 10.”
Sarah Theron se stem is uniek. Sy gebruik haar warm, lae klanke om uiting te gee aan 'n eiesoortige vertolking van verskeie musiekstyle.
Sarah sing al 24 jaar lank voor gehore van alle soorte en smake, die laaste 15 jaar ten volle professioneel. Haar werk strek oor baie genres - uitgevoer in orkesoptredes, pantomimes, musiekblyspele en kabaret. Sy het waardevolle ondervinding opgedoen in die eerste 5 jaar van haar sangloopbaan deur amper uitsluitlik buitelugoptredes saam met "live bands" te doen. Dit verduidelik dalk waarom Sarah ewe tuis is met Rock, Jazz, Pop, Gospel, Blues en selfs Kunsliedere!

Hoogtepunte in haar loopbaan is dan net so uiteenlopend: YET ANOTHER FAT LADY SINGS (FNB Vita Toekenning), sowel as DUET TO ME ONE MORE TIME (met Rory Rootenberg ), UP & COMING ('n Didi Kriel Produksie), NUNSENSE (vir Peter Toerien), RETURN TO THE FORBIDDEN PLANET, SERIAL STOEPTANNIES LIVE (met Heidi Edeling; aangewys as een van die Top Tien / KKNK '96),
SHOPRITE CHECKERS WOMAN OF THE YEAR 1999 & 2000, die pryswenners LIFE IS BEAUTIFUL (met Charl van Heyningen), HUISGENOOT SKOUSPEL 2002, ROOI ROSE AL DAAI JAZZ, Café Boerlesque (met Soli Philander & Pedro Kruger) en oor die afgelope 5 jaar met haar eie produksies, SARAH THERON: VURIGE DIVA, SUIWER SARAH, KISS MY JAZZ, Sarah Theron: SOLO, en nou ook DiVA RSA.
Sarah is ook in 2004 & 2005 gesien in die verhoog-sitkom OP DIE VROU AF (saam met Pedro Kruger) en ROOMKOEKE (saam met Heidi Edeling). Laasgenoemde twee produksies is geskryf en geregisseur deur Hennie van Greunen. Gedurende 2005 het Sarah 'n regte "Kaapse band", ONKRUiD op die been gebring. Tot en met einde 2006 het sy uitsluitlik saam met hulle opgegtree. Nou dis tyd vir nuwe weivelde en so is DiVA RSA gebore.

|