| Cape Town Restaurant | Dinner Theatre | Live Entertainment | Kaap Stad Restaurante | Aandete Teaters | Lewendige Vermaak |

 
 
 
 
 
 
 
 

Valiant Swart

Om Valiant solo te sien optree is ‘n intieme en rustige kuier. Wanneer hy egter saam met sy briljante “band” speel, is die “handskoene af en kom sy ware "rock- karakter" na vore.

Deur die jare het van die beste musikante in Suid Afrika in die Valiant Swart band gespeel en die huidige “line-up” is geen uitsondering nie. Op klawers is Simon Orange, voorheen van die Blues Broers en Frosted Orange faam. Op kitaar is die opwindende jong Basson Loubser. Die enjinkamer bestaan uit Barry Steenkamp (voorheen van Akkedis) en Vernon Swart op dromme.

Met die nuwe album HORISONTAAL gaan die gehoor weer op reis saam met Valiant deur sy sonderlinge rock ‘n roll troebadoer-landskap. Hy is soms speels, soms melancholies, altyd eerlik, nooit vervelig nie. Daar is liedjies oor “die langpad en die liefde, kitare en dromme, laat nagte, diep riviere, sonsondergange, whisky, rooiwyn en blues,hotelkamers, verlange, koue biere, ou en nuwe vriende, afskeid neem, en eindelose reise”.

Al hierdie emosies word vleuels gegee deur 'n gat-skop rock-groep met die Mystic Boer aan die stuur.

Valiant Swart het homself geleer kitaar speel toe hy elf jaar oud was. Hy het kort daarna liedjies begin skryf en in sy hoërskooljare in ‘n hele paar bands gespeel. Na sy studentejare is hy weermag toe.

In hierdie tyd het hy saam met Koos Kombuis in die rokerige kroeë van Hillbrow begin optree en hom in alle erns as Afrikaanse liedjieskrywer begin bekwaam. In 1990 het hy amptelik begin om ‘n bestaan te voer met sy songs en sy kitaar.

Sedertdien het Valiant Swart landwyd ‘n bekende en gewilde gesig op verhoë en in die media geword.

Van Oppikoppi tot die Staatsteater, by kunstefeeste en in musiekkroeë en –klubs oraloor, het Valiant oor die jare ‘n reputasie as eersteklas entertainer opgebou.

Met letterlik duisende optredes op sy kerfstok, hetsy solo met kitaar en mondfluitjie in ‘n intieme teater atmosfeer, of op ‘n groot rock-verhoog met sy manjifieke band, is ‘n Valiant-show ‘n belewenis vir enige gehoor.

Valiant het al elf CD’s die lig laat sien (gaan na die Diskografie blad vir volledige besonderhede). Sy eerste, Die Mystic Boer, is in 1996 vrygestel. Hy was ook die produksieleier op verskeie albums van ander kunstenaars, en het talle gasoptredes op ander albums gelewer.

Van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Piet Botha, het al van sy liedjies opgeneem, en baie sangers en bands gebruik Valiant se liedjies in hul verhoog-repertoire.

In 2001 het kykNet hom op ‘n blues-reis Amerika toe gestuur. Die resultaat was die dokumentêre TV-reeks, “Veertig dae deur die Delta”, waar kykers getrakteer is op Valiant se blues-avonture in Tennessee, Mississippi en Louisiana.

Die sukses van hierdie reeks het gelei tot sy akteursdebuut, in die hoofrol as dr Jinx in kykNet se “Song vir Katryn” trefferreekse. Tesame met die klankbaan-album wat goue status verwerf het, het “Katryn” van Valiant ‘n huishoudelike naam gemaak.

Deesdae is Valiant nog volstoom aan die rock. Sy nuwe album word in Maart opgeneem en in Mei vrygestel.

Hy is ook besig met die opneem van musiekvideo’s, die maak van ‘n dokumentêre TV-program oor sy nuwe album, en die saamstel van ‘n liedjieboek, waarvoor daar nou al jare lank ‘n groot aanvraag is.

Agter die skerms word daar kliphard gereël aan ten minste drie nasionale toere wat voorlê, asook dosyne ander optredes regoor die land.

The Valiant Swart Band

Through the years some of the best musicians in the county featured in the Valiant Swart band and the present line-up is no exception. Although he nowadays more often performs his “laid-back” solo show, this is a rare occasion to see the full band in action and Valiant has promised that the “gloves.. (and maybe the roof).. will be off”.

So if you long for those hard-rocking days in “die Akker and “the Hidden Cellar” get yourself to “die Boer Theatre Restaurant in Durbanville

WIL JY BY DIE BOER OPTREE:?
Ons verstaan hoe moeilik dit vir jong kunstenaars kan wees om in die vermaaklikheidswêreld in te breek! Dikwels is dit ʼn bose kringloop. As jy nie bekend is nie, kan jy nie by die groot venues speel nie en as jy nie by die groot venues speel nie!!

Ons het ʼn paar opsies om verdienstelike jong kunstenaars te probeer help. Stuur vir ons ʼn cd of mp3 van wat jy al gedoen het asook enige persverklarings, fotos ens wat ons kan help. Kliek hier om ons te kontak. Ons sal graag  daarna luister en jou kontak as ons voel ons jou kan help.

KUNSTENAARSBELEID
Ons wil help om die langtermyn welstand van die uitvoerende kunste in die algemeen, maar in die besonder “lewendige musiek” te bevorder. Die vreugde van musiekmaak lê daarin om saam met ander musikante te speel, of jouself te begelei. Daarom gee ons voorkeur aan kunstenaars wat sonder “backtracks” speel.

Dikwels word kunstenaars geforseer deur suiwer ekonomiese realiteite om “backtracks” te gebruik en ons hanteer elke geval op meriete. Ons vra egter ons gaste om saam met die Boer ons kunstenaars wat ten spyte hiervan steeds verkies om lewendig op te tree, te ondersteun

DNA Online - Website Design and Development