WILDE WILLEMIENTJIE, ‘n WALVIS, ‘n SEEROWER EN DIE MAAN!
Wilde Willemientjie reis nog verder!
Die klein, wilde meisietjie met sproete en woeste rooi hare het voorwaar nou al deur die hele Suid-Afrika gereis, maar nou vertel sy en haar vriende julle van ‘n penarie in die Knysnawoud, ‘n ontmoeting met ‘n walvis, ‘n seerower en ‘n vreemde tog na die maan.
Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers, was nie net vir maande lank ná die bekendstelling by die ABSA KKNK 2006, die topverkoper in die Boekeparadys sowel as baie boekwinkels regoor die land nie, maar die musikale verwerking van die teks, vervaardig deur Niël Rademan en sy talentvolle span is ook bekroon met 'n gesogte Kanna-toekenning as Beste kinderproduksie van die KKNK 2006!
WILDE WILLEMIENTJIE, ‘n WALVIS, ‘n SEEROWER EN DIE MAAN is 'n musikale kinderversdrama uit die hoogste rakke en het gespog met ’n sterbelaaide rolverdeling van jong, bekroonde akteurs. Dit is ’n energieke, vrolike, interaktiewe opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme.
(In die verlede is pertinent genoem dat kinders ouer as 60 voor die vertoning deeglik uit moet rus, aangesien die akteurs geen verantwoordelikheid aanvaar het vir algehele uitputting nie! Hierdie keer wil Wilde Willemietjie werklik mense oor alle generasies uitdaag om saam met haar op een van haar energieke reise te gaan.
Die verwerking van die teks is gedoen deur die Kanna-bekroonde, Adriaan Meyer. Regie en musiekregie word gedoen deur die begaafde Niël Rademan. Die rolverdeling bestaan uit Lindi Smit, Deon van Zyl, en Tanya van Tonder (as die onweerstaanbare Willemientjie). Die stelontwerp is gefasiliteer deur die kunstenaar Jacolene de Haan.
Die Avonture van Wilde Willemientjie se segetog!
Die grootste opwinding van die KKNK het toe nie gekom in die produksies met die “groot” name nie, maar in die gedaante van 'n klein, wilde meisietjie met sproete en 'n slangetjie in haar woeste rooi hare ... ‘n Totaal uitverkoopte reeks van vertonings in Oudtshoorn, Stellenbosch, Durbanville, Heidelberg, Bloemfontein en Durban! Voorwaar ‘n gehoortrekker soos wat daar lanklaas in ons land was.
Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers, was nie net die topverkoper in die Boekeparadys nie, maar die musikale verwerking van die teks deur die kabaretpersoonlikheid, Niël Rademan is ook bekroon met 'n gesogte Kanna-toekenning as Beste kinderproduksie van die KKNK 2006.
Die avonture van Wilde Willemientjie is 'n musikale kinderversdrama uit die hoogste rakke wat spog met ’n sterbelaaide rolverdeling van jong, bekroonde akteurs. Dit was ’n energieke, vrolike, interaktiewe opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme.
(Kinders ouer as 60 is wel aangeraai om voor die vertoning deeglik uit te rus, aangesien die akteurs geen verantwoordelikheid aanvaar het vir algehele uitputting nie!)
Regie en musiekregie is gedoen deur Niël Rademan. Die rolverdeling is Lindi Smit (as ouma, mamma, Cassandra en die bose jagter), Deon van Zyl (as oupa, pappa, die skelm skurk en die gemsbok) en Burnese Cronjé (as die onweerstaanbare Willemientjie). Die stelontwerp is gedoen deur Jacolene de Haan.
• ’n Heel andersoortige oorspronklike stuk is Die Avonture van Wilde Willemientjie, Riana Scheepers se nuwe kinderboek verwerk deur Niël Rademan, wat ook self die klavier daarin bespeel. Dit bied prettige vermaak vir kinders, en dis veral ’n verademing om na ’n kinderproduksie te kan kyk waarin die natuur, musiek en die wye wêreld die botoon voer eerder as selebriteite en TV-persoonlikhede. ’n Wonderlike manier om ’n boek bekend te stel!
Gerrit Brand - Die Burger
• Wilde Willemientjie is gróót pret. Kinders en ouers geniet hulle gate uit tydens hierdie energieke en uiters vermaaklike musikale versdrama.
Ingrid Lehmensich – KKNK Krit
• Wilde Willemientjie is die beste ding sedert Smarties en roomys!
‘n Leser

|