Zirk Bergh
Geen 'backtracks' nie, geen karaoke nie, net lewendige Weskus musiek. Zirk maak sy heerlike humoristiese musiek op sy kitaar en skop sy kassie en bly oorspronklik.
Geen mens kan lekker saam met jou pêlle rustig wees sonder Zirk musiek nie.
Ons het lank gewag vir nog Worsie musiek vreugde en Zirk sit borrels in jou bier.
Zirk Bergh het vroeg in sy lewe besluit hy hou nie van werk nie. Nog bloedjonk en sonder spesifieke planne, het hy reeds nege jaar gelede langs die see naby Bitterfontein aan die Weskus afgetree.
Vir die lekker en om die tyd te verwyl, het hy op sy kitaar getokkel en liedjies geskryf. Een hiervan, Ek hou nie van werk nie, het intussen so gewild geraak, dat Thys die Bosveldklong selfs sy CD dié naam gegee het.
Die singery is byna nie meer net 'n tydverdryf nie. Zirk is half bang dat dit een van die dae werk gaan word. "Die singery het sommer net begin," vertel hy.
"Ek het langs die water gesit en na die lekker vet krewe gekyk. Dan het die woorde en wysies sommer net so by my opgekom. Ek weet nie veel van musiek nie, en die wysies is sommer so 'n paar note op en af.
"Ek het hulle begin uittoets op die dronk mense in die kroeg. Dit het nie gelyk of dit eintlik werk nie, maar ek het aangehou."
Bergh is onnodig beskeie, want iemand wat nie veel van musiek weet nie, sou beslis nie in Worsie Visser se orkes gespeel het nie. Hy sou ook nie deel van Papendorp se Gewildste Rok-orkes gewees het nie.
Nog minder sou sy album, Dis die Weskus, later sewe weke op Radio Overvaal se toptwintig kon wees of Ceres se plaat van die jaar kon word.
Hy was ook al op televisie te sien as deel van 'n program oor die kos en musiek van die Weskus.
Hy glo daaraan om vir sy gehore te gee wat hulle wil hoor. Hy sal nooit met vooraf opgeneemde musiek werk nie. "Ek word sommer kwaad as kunstenaars met backtracks kom neuk.
Ek sing nie karaoke vir mense nie. Ek maak my musiek op my kitaar en skop my kassie en bly oorspronklik. Kunstefeeste gaan nog doodloop omdat kunstenaars nie meer oorspronklik is nie."
Sukses het nie oornag gekom nie, maar hy weet hy is nou gewild omdat hy nie meer vir R150 per aand hoef te speel nie en omdat hy nou by 'n enkele vertoning meer albums verkoop as wat hy voorheen in 'n maand van die hand gesit het.
Hy is ook vir die res van die jaar reeds vol bespreek. "Deesdae speel ek selfs in teaters, en ek kan steeds nie glo die mense sit stil om na my te luister nie."
Die wysheid en die humor is kenmerkend van die Weskus, al kom hy eintlik van Oranjemund en het hy 'n Tygerbergse draai gegooi toe hy in Kraaifontein op skool was.
"Ek het nie diep en ernstige planne vir die toekoms nie.
"Die lewe gooi my te veel rond vir groot planne," sê hy. "Ek speel hier en ek speel daar en dan ry ek in my kombi terug na my plekkie langs die see.
"Ek sal sing totdat dit nie meer werk nie. “Ek kyk maar hoe die lewe mý gooi."

|